9 dae gelede
Lang toer wag vir Bulls
SO MAKLIK! Sevu Reece gaan druk een van sy drie drieë. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE gevaarligte flikker helder vir die Bulls.

Met ’n vernederende pak slae van 45-13 Vrydagaand teen die magtige Crusaders op Loftus Versfeld en ’n uitmergelende toer van vier wedstryde oorsee wat voorlê, dui alles daarop dat die Bulls verder van die grond af gaan eet.

Die geweldige pas waarteen die Crusaders gespeel het en die Bulls se verdediging oorhoops gehad het, wys opnuut dat die Springbokke ’n haas uit die hoed sal moet trek as hulle die All Blacks wil klop.

Dié wedstryd het ook weereens gewys Suid-Afrika se spanne weet nie hoe om drieë te druk nie.

Die senter Burger Odendaal het die Pretorianers se enigste drie gedruk, terwyl die Crusaders hulle sewe keer agter hulle pale laat staan het.

Die enigste ander keer toe dit gelyk het asof die Bulls ’n drie kon druk, was toe Rosko Specman, die linkervleuel, soos ’n mes deur botter gesny het net om ’n meter voor die pale te sien dat die bal vir hom verkeerd spring nadat hy die bal tydens ’n skitterlopie vorentoe geskop het.

Daarna het Specman telkens die bal gekry terwyl hy feitlik op die kantlyn getrap het. Sonder spasie kan geen vleuel drieë druk nie.

Voorlangs was Duane Vermeulen (agsteman) en RG Snyman (slot) kolosse. Hulle het enduit geveg en met groot eer uit die stryd getree.

Die klipharde geblêr van musiek oor die luidsprekers het die fans grensloos geïrriteer.

Op ’n keer was die musiek nog só hard dat Schalk Brits, die Bulls-haker, nie die lynstaan-call kon hoor nie.

In die sosiale media het die fans behoorlik onder die Bulle-maatskappy ingeklim.

CRUSADERS – drieë: Richie­ Mo’unga (2), Mitchell Dunshea, Sevu Reece (3), Scott Barrett; doelskoppe: Mo’unga (5).

BULLS – drie: Burger Odendaal; doelskop: Han­dré Pollard; strafdoele: Pollard (2).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters