25 dae gelede
KSA tans in panic mode

DIE afgelope week se gebeure binne Krieket Suid-Afrika dui daarop dat dié organisasie in ’n wurggreep van paniek vasgevang is.

Die bewyse is duidelik. Die ringkoppe beheer die organisasie in panic mode. Nadat Enoch Nkwe uit die wilde weste as waarnemende spandirekteur vir die toer na Indië aangestel is, kom daar nóg skokke.

Die hulpafrigters, Justin Ontong en Malibongwe Maketa, word toe skielik jobs aangebied.

Die vraag is: Is Maketa aangestel omdat hy keel skoongemaak het oor hoe stief hy deur die ringkoppe behandel is?

Maketa het die KSA gelooi en sy afdanking as lid van Ottis Gibson se afrigtingspan as “sielsvernietigend” beskryf.

Hy en Gibson is ná die teleurstellende Wêreldbeker-toernooi in Engeland saam met Dale Benkenstein, Ontong en Claude Henderson in die pad gesteek.

Maketa is net soos Ontong werkloos gelaat.

Maar Maketa is ’n hand van versoening aangebied om as waarnemende breier van die SA A-span oor te neem.

Dit volg nadat Russell Domingo die pos aanvaar het om Bangladesj af te rig.

Toe kom daar sommer ’n hand van versoening ook aan Ontong. Hy word toe saam met Vincent Barnes en Lance Klusener aangewys om Nkwe op die Proteas se toer na Indië by te staan.

Klusener is as kolfafrigter aangewys terwyl Ontong sy pligte as veldwerkafrigter sal hervat. Barnes is die boulafrigter. Maar daar’s ’n kinkel in Klusener se aanstelling. Hy sal net vir die T20-reeks teen Indië waarneem.

Barnes is ongetwyfeld die mees ervare man. Hy het die nasionale o. 19-span al afgerig en was hulpafrigter onder Mickey Arthur.

Wat het Ontong dus gedoen om skielik sy job terug te kry? Hy was dan deel van Gibson se mislukte veldtog.

Klusener het voorheen die Dolphins afgerig en was ook Zimbabwe se kolfafrigter.

Barnes is tans ook die KSA se hoëprestasiebestuurder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters