11 dae gelede
Krieketspelers maak harte en beursies oop
GROOT HART: Vernon Philander dien gemeenskappe in nood. Foto: INSTAGRAM  ~ 

DIE Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (SAKV) het Vrydag aangekondig die land se beroepskrieketspelers gaan R300 000 aan die Gift of the Givers-stigting skenk om te help met die verspreiding van kospakkies aan gemeenskappe wat weens die Covid-19-pandemie ly.

By die aankondiging het Andrew Breetzke, uitvoerende hoof van die SAKV, gesê: “Die pandemie het ’n verwoestende impak op gemeenskappe in Suid-Afrika. ’n Paar spelers, onder wie Faf du Plessis, Vernon Philander en Temba Bavuma, het reeds hul tyd en hulpbronne bestee om swaarkry in hul streek te verlig.”

Omphile Ramela, president van die SAKV, het bygevoeg: “Dit was ’n maklike besluit vir die SAKV se uitvoerende komitee.

“As beroepskrieketspelers geniet ons die steun van alle Suid-Afrikaners, en dit is ’n tyd dié dat ons aan hulle steun moet toon.”

Verbind

Du Plessis het gesê: “Ons almal moet doen wat ons kan om ons mede-Suid-Afrikaners by te staan. Hierdie skenking sal ’n verskil maak in die lewe van die kwesbaarstes, en dit sal ander hopelik motiveer om soortgelyke bydraes te maak.”

Met die aanvaarding van die skenking het Gift of the Givers hom daartoe verbind om ’n verdere R150 000 by te sit by die donasie wat van die spelers ontvang is. Die steun is só tot R450 000 verhoog.

Die geld sal aangewend word om armoede te verlig onder kinders in gemeenskappe wat die ergste getref is deur die impak van die Covid-19-pandemie.

“Ons sien almal uit na die dag dat ons weer die geluid van bal teen kolf kan hoor. Intussen moet ons optree teen hierdie pandemie en die verwoestende impak wat dit op baie Suid-Afrikaners het,” het Breetzke afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters