2 maande gelede
KP slaggereed vir die volgende stap
LOPIEMASJIEN: Keegan Petersen vier sy honderdtal teen Engeland.  ~ Gallo images

KEEGAN Petersen het ná drie seisoene besluit om Bloemfontein en die Knights vir Durban en die Dolphins te verruil.

Hy sal in die 2020/’21-seisoen Kingsmead sy tuisveld noem. Hy het sy mojo die laaste paar seisoene in Bloemfontein gevind nadat hy gesukkel het om homself in die Cobra-span te vestig.

Hy het gedy by die Knights en veral verlede seisoen met die kolf geskitter. Die lopies het behoorlik van KP, soos hy alombekend staan, se breë kolf gevloei.

Hy was laas seisoen die beste kolwer in die land en het ’n indrukwekkende 923 in net 9 meerdaagse wedstryde aangeteken. Dit het die nasionale keurders se oog gevang.

Dit was veral ’n skitterende honderdtal teen Engeland vir SA A in Benoni in Desember wat die keurders genoop het om die 26-jarige Paarliet vir die toetsreeks op te roep. Hy was baie na aan die span, maar het ongelukkig nie speelkans in die reeks teen Engeland gekry nie.

Hy het egter waardevolle tyd saam met Jacques Kallis, voormalige Protea-ster en deesdae dié span se kolfkonsultant, gekry en hulle kon lekker aan sy tegniek skaaf.

“Dit was great om saam met Jacques Kallis te werk,” het KP dié week aan Son op Sondag gesê.

“Hy is een van die game se heel grotes en ek leer verskriklik baie van hom. Hy is baie goed in dit wat hy doen en dit was great vir my om deel van só ’n omgewing te wees. Nou wil ek nóg hê.”

Hy sê die skuif na die Dolphins is juis om sy plek in die toetsspan oop te speel. “Ek het basies net gevoel dis tyd om vorentoe te beweeg.

“Bloemfontein het my alles gegee wat hy kon en ek is baie dankbaar dat ek daardie geleenthede gekry het om nou te wees waar ek is.

“Dit het bietjie van ’n aanpassing geverg, want Bloem is nie die Kaap of die Paarl nie, maar ek het soontoe getrek suiwer vir krieket-redes. Die omgewing het my geslyp in die persoon en speler wat ek vandag is. Ek is gedwing om op krieket en krieket alleen te fokus.

“Dis egter nou tyd om aan te beweeg na die volgende vlak en toetskrieket is beslis op my radar. Kingsmead is ’n toetsstadion en dit kan my kanse (om toetskrieket te speel) help as ek daar kan lopies maak. Manne soos Hashim Amla, Dale Benkenstein en Imraan Khan is almal deel van die set-up en hulle kan my hopelik help om my kolfwerk sodanig te verbeter dat ek ’n geleentheid kry op toetsvlak,” sê ’n vasbeslote Petersen.

Reëngode

Durban sien in die laaste paar seisoene maar min aksie op die krieketveld, want dit blyk die reëngode kom uit om te speel net wanneer daar krieket gespeel moet word. Dit pla KP nie juis nie.

“Ja, dit het deur my kop gegaan, maar dis nie iets waaroor ek beheer het nie. Ek kan ook nie voorspel wanneer dit gaan of nie gaan reën nie,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters