17 dae gelede
Kommie bokke!
Die beste: Siya Kolisi lig gister die Web Ellis-trofee ná sy span se oorwinning oor Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images  ~ 

YOKOHAMA. – ’n Goue Beker vir die Reënboognasie!

Briljant, uitstekend en skitterend. Wie sê die Bokke speel boring rugby?

Suid-Afrika het hom gister in die Yokohama Stadion weer as die beste in die wêreld bevestig. Die Bokke het Engeland in die eindstryd van die World Cup in die skadu van die berg Fuji behoorlik stukkend gespeel.

Die Bokke was met 32-12 baas nadat hulle in die rustyd met 12-6 voor was.

Rassie Erasmus, afrigter, het sy eweknie, Eddie Jones, se span met slim taktiek onkant betrap. Benewens hulle sterk skrumwerk het hulle ook besluit om meer met die bal te hardloop.

Die Bokke se voorspelers het Engeland voorlangs opgemors. Agterlangs het spelers soos Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Willie le Roux en Cheslin Kolbe onder andere die oog gevang met hulle gevaarlike lopies.

Mapimpi en Kolbe het twee skitterdrieë vir die Bokke gedruk. Handré Pollard het albei verdoel en ook met ses strafdoele geslaag.

Al wat Engeland vir sy moeite kon wys, was vier strafoele deur sy kaptein, Owen Farrell.

’n Teleurgestelde Farrell het agterna gesê: “Ons was swak in die eerste helfte en kon net nie daarvandaan terugkom nie. Ek is egter steeds trots op my manne.”

Siya Kolisi, kaptein van die Bokke, sê sy span het ’n geweldige groot uitdaging voor hom gehad.

Gewys

“Die manne het egter alles oorkom om as oorwinnaars uit die stryd te tree.

“Die mense van Suid-Afrika was almal agter ons. ’n Span soos ons s’n, wat uit verskillende rassegroepe bestaan, het bymekaargekom en gewys wat gedoen kan word as ons as ’n nasie saamstaan.”

Die Bok coach, Rassie Erasmus, was uiteraard in sy noppies met sy span se vertoning.

“Die boys het in hulself geglo. Ons was 19 weke saam. Al wat ons gedoen het, was om net die goeie dinge in Suid-Afrika te gebruik en die beste daarvan te maak. Ek is ongelooflik trots,” het ’n verheugde Erasmus gesê.

Die Rose se breier moes op sy beurt toegee sy span is deur ’n beter span geklop.

“Die spelers se effort was uitstekend, maar ons kon net nie op die voorvoet kom nie. Suid-Afrika was vanaand uitstekend en ons kan niks van hom af wegvat nie,” het Jones gesê.

Duane Vermeulen is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het gesê: “Ons het dit nie vir onsself gedoen nie, maar vir die sowat 57 miljoen mense in Suid-Afrika.”

Puntemakers:

SUID-AFRIKA – drieë: Makazole Mapimpi, Cheslin, doelskoppe: Handré Pollard (2); strafdoele: Handré Pollard (6).

ENGELAND – strafdoele: Owen Farrell (4).

Engeland: Elliot Daly, Anthony Watson, Manu Tuilagi, Owen Farrell (k), Jonny May, George Ford, Ben Youngs, Billy Vunipola, Sam Underhill, Tom Curry, Courtney Lawes­, Maro Itoje, Kyle Sinckler, Jamie George, Mako Vunipola. BANK: Luke Cowan­-Dickie, Joe Marler, Dan Cole, George­ Kruis, Mark Wilson, Ben Spencer, Henry Slade, Jonathan Joseph.

Suid-Afrika: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Lood de Jager, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira. BANK: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters