2 maande gelede
Kolbe gryp kans
BRILJANT: Cheslin Kolbe sê hy wil graag sy flair gebruik om waarde by die Springbok-span te voeg. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

HY HET nooit opgehou droom nie en sy droom is nou uiteindelik verwesenlik.

Só het Cheslin Kolbe gister in ’n eksklusiewe onderhoud uit Frankryk aan Son op Sondag oor sy insluiting by die Springbok-groep gesels.

Die 24-jarige boorling van Kraaifontein in die Kaap was laas week nog in aksie vir sy Franse Top14-span, Toulouse, teen Lyon.

Kolbe het in dié wedstryd weer gewys daar is min spelers in wêreldrugby wat so gevaarlik soos hy uit gebroke spel is.

Van 2013 tot 2017 het dié veelsydige agterspeler in 49 games­ vir die Stormers in die Superrugby-reeks uitgedraf.

Die oud-leerder van die Hoërskool­ Brackenfell was ’n lid van die Blitsbok-span wat in 2016 ’n bronsmedalje by die Olimpiese Spele in Rio gewen het.

In dieselfde jaar was hy ’n lid van die Bok-oefengroep, maar hy’t nie ’n kans op toetsvlak gekry nie.

Verlede jaar het hy besluit om hom by Tou­louse in Frank­ryk aan te sluit waar hy ’n uiters ongelooflike impak in die Top14-kompetisie gemaak het.

Kolbe was uiteraard in sy noppies toe hy vandeesweek amptelik die nuus van sy insluiting by die Bok-groep van Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, ontvang.

“Toe ek Frankryk toe geskuif het, het ek nooit tou opgegooi om my droom te verwesenlik om eendag die Bok-trui oor my kop te trek nie,” vertel hy.

“Ek is ongelooflik oorweldig en opgewonde om na die Bokke opgeroep te word. Ek het nooit opgehou droom nie.

“Ek het ongelooflik baie in Frankryk in die Top 14 geleer en ervaring opgedoen.

“Dit is ook ’n great geleentheid om dieselfde veld saam met talle internasionale spelers te deel.”

Die blitsbuks sê sy afrigter by Toulouse het altyd in sy vermoëns geglo. Dit het hom baie selfvertroue gegee.

“Hy het my altyd geback deur my die vryheid te gee om my natuurlike spel te speel. Dit het my baie gemotiveer om altyd my beste te lewer.

“Hulle is almal in hul noppies dat ek nou ’n geleentheid met die Bokke kry. Hulle gee my hul volle support. Ek gaan hulle mis, maar ek behoort net ’n paar Top 14 games te mis.”

Rugbykenners is dit eens dat Kolbe dieselfde soort dinamika na die Springbokke kan bring wat ’n speler soos die opwindende Damian McKenzie die All Blacks bied.

Kolbe wil egter so veel moontlik sy sterker punte gebruik om op sy eie manier waarde by die Bok-span te voeg.

“Ja, ek weet mense vergelyk my met Damian McKenzie, maar ek sal graag vir my eie spelstyl bekend wil wees.

Foto:
GESIN: Cheslin en sy vrou, Layla, en klein Kaylah, hul dogtertjie.­FOTO verskaf
BRILJANT: Cheslin Kolbe sê hy wil graag sy flair gebruik om waarde by die Springbok-span te voeg. Foto: GALLO IMAGES

Handskoen

“Damian is ’n briljante speler. Ek hoop egter om my eie flair na die Bokke te bring wanneer ek die geleentheid gegun word.

“Ek is baie opgewonde oor die Bokke se huidige spelstyl en ek glo dit gaan my beslis soos ’n handskoen pas,” het hy bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters