7 dae gelede
Kock beslis die man vir sy nuwe job
geluk: Beresford Williams wens Nick Kock voorspoed toe met sy nuwe pos.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIT word gou duidelik hoekom adv. Nicolas Kock die joos in raak vir sportadministrateurs wat vir eie gewin in sport betrokke is.

Kock (50), wat onlangs by Beresford Williams as president van die Westelike Provinsie Krieketraad oorgeneem het, is ’n kampvegter vir krieketontwikkeling.

Hy is aan die stuur van ’n suksesvolle program wat vir jong sportmanne­ van agtergeblewe gemeen­skappe dwarsoor die Kaap geleenthede by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) skep.

Hy is tans ’n lektor by die UWK se nagraadse Instituut vir Maatskaplike Ontwikkeling. Hy is ook ’n uitvoerende hoof van ’n sport- en opvoedkundige welwillendheidsorganisasie genaamd Sports Skills for Life Skills (SS4LS).

“Een van die suksesse van die program is dat ons tot dusver 27 eersteklas- swart spelers opgelewer het, 25 van hulle het universiteitsgrade behaal en 9 eersteklas-spelers is tans besig met grade,” vertel hy.

Kock dien sedert 1992 op verskillende strukture van die WP-Krieketraad. Hy is ook reeds die afgelope agt jaar adjunkpresident.

“Dit gaan beslis ’n baie groot uitdaging wees. Maar ons lewe in opwindende tye, veral met die nuwe ontwikkeling wat by Nuweland plaasvind, sowel as wat die nasio­nale kompetisies betref,” sê Kock.

Vir ’n man wat op laerskool judo as sport geneem het, kom hy kalm en doelgerig voor, veral as hy sy liefde vir musiek deel.

“Ek geniet enigiets van Early B tot Bach, en dan so ’n bietjie boogie-boarding by Muizenberg. Dis van die dinge wat ek doen as ek nie by krieketsake betrokke is nie.

Optimisties

“Dan spandeer ek kosbare tyd saam met my kinders. Of ek besoek ander stadions om soveel moontlik te leer waarby Nuweland kan baat vind,” verduidelik hy.

Met Krieket Suid-Afrika wat onlangs besluit het om die franchise tot niet te maak, is hy ewe optimisties oor die toekoms.

“Een van my groot doelwitte is om Nuweland weer te laat weergalm met ‘WeeePeee, jou lekke’ ding!’ ”

Kock glimlag breed terwyl hy sy visie verduidelik.

“Ek verkies om op die positiewe te fokus en daar is baie positiewe stories in Suid-Afrikaanse sport.

“Op ons eie voorstoep het Benni McCarthy, John Comitis en klein Mateo Manousakis iets spesiaals by Cape Town City geskep.

“Dan moet daar ook nie vergeet word van Seven Stars in die Sparletta Cup nie. Wat ’n ongelooflike span!

“Dit wys jou wat is moontlik as sportadministrateurs hulle werk behoorlik doen,” voeg hy by.

Met die veranderde kompetisiestelsel en ontwikkeling by Nuweland-stadion lyk dit of Kock net die regte man op die regte tyd is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters