18 dae gelede
Knie pla Serena voor Wimbledon
serena williams Foto: getty images  ~ 

SERENA Williams (37) se droom om die rekord vir die meeste Grand Slam-titels in vrouetennis te ewenaar, is aan die taan.

Die Amerikaner het 23 Grand Slams agter haar naam. Maar nou, kort voor vanjaar se Wimbledon, sukkel sy met ’n besering.

Williams het gehoop om in gister se eindstryd van die Franse Ope te speel en gelyk te trek met Margaret Court (76) se rekord van 24 titels.

Sy het egter net die vierde ronde gehaal. Dis haar swakste vertoning sedert 2014 by Roland-Garros.

Williams se afrigter, Patrick Mouratoglou, sê sy speel al geruime tyd met die besering.

Halfgebak

Volgens hom moet Williams rus en die besering tyd gee om te herstel as sy aan die Wimbledon-toernooi wil deelneem.

Mouratoglou sê hulle oorweeg ook sterk dat sy nie voor Wimbledon aan enige opwarmingstoernooie deelneem nie.

Williams sal dus halfgebak by Wimbledon aantree – as die besering genoeg sou herstel het.

Wimbledon begin op 1 Julie. Dit beteken Williams het drie weke om weer perdfris en fiks te raak.

“Ons het ’n dokter in Parys gespreek. Ek werk nou al 20 jaar met hom saam.

“Ek dink ons gaan gereed wees,” het Mouratoglou gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters