2 maande gelede
Klitschko kom weer
HERONTMOETING? Anthony Joshua en Wladimir Klitschko boks dalk vanjaar nog weer ’n keer teen mekaar.Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

GELD praat – en dit praat hard!

Daarom oorweeg die voormalige swaargewigbokskam­pioen van die wêreld Wladimir Klitschko dit ernstig om op 42-jarige ouderdom na die kryt terug te keer.

Luidens oorsese berigte het die video­stroomdiens DAZN hom £35 miljoen (nagenoeg R658 miljoen) aangebied om weer te boks.

Dis ’n kontrak van drie jaar ingevolge waarvan hy in herontmoetings teen Tyson Fury en Anthony Joshua te staan moet kom.

Fury het Klitschko, wat ook as Dr. Steelhammer bekend staan, op 28 November 2015 in Düsseldorf, Duitsland, eenparig met punte geklop.

Joshua het hom toe op 29 April 2017 in die Wembley-stadion met ’n tegniese uitklophou verslaan.

Joshua het egter self op die krytvloer beland voordat hy Klitschko tot oor­gawe gedwing het.

Klitschko het net daarna uitgetree.

Fans van albei boksers het daarna sterk aangedring op ’n herontmoeting tussen dié twee grotes.

Klitschko sal dan ook as ambassadeur vir die Amerikaanse videostroomdiens optree.

Die nederlae teen die twee Britse boksers was die enigste agtereenvolgens wat Klitschko in ’n beroepsloopbaan van 69 gevegte gely het.

Bestaan

Die nuwe verwikkeling oor ’n moontlike terugkeer vir Klitschko is dalk ook die rede waarom sy voormalige afrigter, James Ali Bashir, “tot verdere kennisgewing” aanbly as die Suid-Afrikaner Ruann Visser se breier.

Die moontlikheid bestaan dus dat Bashir kan terugkeer na die Klitschko-kamp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters