4 maande gelede
Klate het drome
Oog op die talent: Daine Klate blaas nou die fluitjie langs die kantlyn as Chippa United se MDC-breier.Foto: deon ferreira  ~ 

DIE Premierliga (PSL) se mees bekroonde speler, Daine Klate, wil nou verseker dat jong sokkertalent in die Baai meer aandag geniet.

Net ’n maand ná sy aftrede is Klate reeds baie hard besig in sy nuwe rol as Chippa United se MDC-breier.

Son het met Klate langs die kantlyn gaan gesels.

Klate (34) kon moontlik nog ’n seisoen of twee gespeel het, want hy het duidelik nog die skills op die veld. Hy het my maklik op die veld geslag met sy wit adidas-stewels in ’n legends game.

Klate voel egter dis tyd om terug te ploeg en te fokus op die toekomstige Baaise talent.

“Ek het in my loopbaan baie bereik en is tevrede met wat ek kon doen op die veld. Daarom het ek besluit dit was die regte tyd om my boots op te hang,” sê hy.

Klate, wat ses PSL-titels gewen het, sê hy sal nou net sosiaal speel om sy fiksheid te behou.

“Ek dink hoe vinniger ek betrokke kan raak by afrigting, hoe beter vir my ontwikkeling as afrigter, want dis ’n proses.

“Dis vergelykbaar met speler wees. Toe moes ek hard werk vanuit die akademies om ’n professionele speler te word.

“Nou moet ek dieselfde doen, maar in ’n ander rol.

“Dit gaan ook tyd vat.”

Klate sê om ’n breier te word, was nooit regtig iets waaroor hy gedink het nie, maar Chippa United se huidige breier, Clinton Larsen, het ’n groot rol in sy besluit gespeel.

“Larsen het my gevra om te dink aan afrigting. Dis basies waar die idee vandaan gekom het.

“Ek het baie geleer by hom in die tyd dat hy by Chippa was. Hy het ook gevoel ek het die talent om af te rig.

“So, om dan die kans te kry om die MDC-span te brei, sowel as om lid te wees van die senior span se tegniese span, is ’n goeie geleentheid. Dis iets waarvoor ek nie kon nee sê nie.”

Ná 16 jaar as professionele speler by klubs soos SuperSport United, Orlando Pirates en Wits voel Klate dat dit nou belangrik gaan wees vir hom om veral in die Baai hulp te verleen.

“Ek kom van hier en my sokker het hier begin. So, ek voel ek het ’n groot rol wat ek moet speel, veral in die Baai. Dis om te help kyk of ons nie die volgende PSL-sterre kan kweek nie.”

Volgens die ster is daar planne om ’n akademie op die been te bring, maar hy sê hy het nog sommer baie om agter die skerms te leer voordat dit gaan gebeur.

“Sodra ek alles agtermekaar het, gaan ons definitief iets probeer doen. Die Baai het dit nodig, maar ek wil seker maak dat ons iets doen wat gaan voortleef, want ek is opgewonde oor die talent wat hier is.”

Klate sê ook hy wil sy voormalige klub Chippa United ’n bietjie meer deel maak van die Baai.

“Die Chilli Boys is nou wel nie ’n top-ag-span nie, maar ek het my seisoen in die Baai geniet.

“Ek voel tog dat ek wil help dat die jong sterre mik om eendag vir Chippa te speel.

“Hoe meer plaaslike spelers ons by Chippa kan inkry, hoe beter sal dit vir die klub en die provinsie wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters