8 dae gelede
Kings deur die mis oorsee
Gevaar: Adam Hastings van Glasgow Warriors sit op loop.Foto: Gallo Images  ~ 

MISKIEN was dit die mis ...

Dis amper asof die South­ern Kings Vrydagaand in die Scotstoun Stadion nie die Glasgow Warriors kon sien nie.

Hoe dit ook al sy, die Kings het weer ’n swak vertoning oorsee gelewer.

Hulle het in ’n Pro14-stryd met 0-50 vasgeval.

Die Kings het ná die wedstryd getwiet dat dít nie die uitslag was waarvoor hulle gehoop het nie. Maar dit het ook gelyk asof daar nie regtig ’n plan was om van te praat nie.

Van Glasgow se sewe drieë het drie in die eerste 20 minute gekom. Daar is boonop ’n strafdrie aan Glasgow toegeken.

Die Kings was duidelik ongemaklik en het net hier en daar goeie rugby opgedis.

Hulle het egter amper nooit regtig gevaar vir Glasgow ingehou nie.

Tweede

Met ’n rustydvoorsprong van 29-0 was die wedstryd reeds in die sakkie vir Glasgow, wat eintlik tot dusver ’n moeilike kompetisie beleef het.

Die oorwinning vir Glasgow is net sy tweede uit vyf wedstryde sover dié seisoen.

’n Mens moet egter byvoeg Glasgow se span was dié keer versterk met ses Skotse spelers van hulle Wêreldbeker-span.

Een van hulle, Adam Hastings, het vier van die drieë met gemak verdoel.

Maar steeds verskoon dit nie die Kings se swak vertoning nie.

Die Kings moet hulle nou voorberei vir hul laaste wedstryd op toer.

Hulle ontmoet die Ospreys op 9 November in die Liberty Stadion in Wallis.

Daarna kom die Kings eers terug en gaan dan weer oorsee vir hulle laaste wedstryd van die jaar teen die Ierse span Connacht op 30 November.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters