19 dae gelede
Kaapstad lok beste atlete
LANGASEMs: Duisende atlete van oral in die wêreld gaan vanjaar weer vir die gewilde Cape Town Marathon in die Moederstad aantree.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Cape Town Marathon het ongelooflike vordering gemaak sedert dit in 2014 ’n gedaanteverwisseling ondergaan het.

Dit is toe Elana Meyer en Francois Pienaar, twee van Suid-Afrika se mees gevierde sportpersoonlikhede, by die organisering van die wedloop betrokke geraak het.

Meyer, ’n Olimpiese atleet, en Pienaar, kaptein van die Springbokspan wat die World Cup in 1995 gewen het, is die amptelike ambassadeurs van die wedloop.

Dié twee, in samewerking met Westelike Provinsie Atletiek (WPA) en die Stad Kaapstad, het baie hard gewerk om te verseker dat goue status deur die wêreldatletiekbeheerliggaam, die IAAF, aan hierdie marathon toegeken is.

Volgens Meyer is die Gold Label-status ’n drawcard vir die wêreld se internasionale elite-marathonatlete. Dit gee ook die beste plaaslike atlete die geleentheid om hulself teen die beste langasems in die wêreld in hulle eie agterplaas op die proef te stel.

Stephen Mokoka, Suid-Afrika se voorste marathon-atleet, het laas jaar die wedloop in ’n rekord-tyd van 2:08:31 gewen.

Altesaam 17 IAAF gouestatus-elite-atlete gaan vanjaar weer saam met duisende langasems op Sondag 15 September vir die wedloop aantree.

Aanvraag

Meyer sê: “Daar is meer as 30 marathons in die wêreld wat met goue status spog. Die Kaapstad-marathon is die enigste marathon in Afrika wat goue status het.

“Die beste langafstand-atlete kom van Afrika. Dit is waarom dit so belangrik is dat Afrika sy eie goue status-marathon het.

“Die aanvraag van elite-atlete om aan die Kaapstad Marathon deel te neem, was nog nooit so hoog nie. Die marathon is baie gewild onder internasionale atlete.”

Celestine Chepchirchir van Kenia, wat met ’n persoonlike beste tyd van 2:24:48 spog, behoort een van die gunstelinge te wees om die vrouewedloop te wen.

Abeda-Tekulu Gebremeskel van Ethiopië wat vanjaar haar debuut in die Moederstad maak, is ook ’n aanspraakmaker. Onder die mans staan Kipkemoi Kip­sang van Kenia en sy landgenoot Peter Kimeli Some – wat met ’n persoonlike beste tyd van 2:05:38 spog – ’n goeie kans om vanjaar met die louere weg te stap.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters