22 dae gelede
Jonges kry kans in kryt
HOU HOM DOP! Asavela Peter het ’n blink toekoms voor hom.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE WP se bokskampioene van die toekoms kry Saterdag die kans om hulle stempel af te druk wanneer 14 amateur-gevegte by die Philippi Plaza in Govan Mbeki-straat plaasvind.

Dié toernooi, genaamd Drama on the Plaza, begin 11:00 en word in samewerking met Super Cash & Carry, The Salvation Church, King Price, Ocelot Logistics en die Interland-eiendomsgroep aangebied.

’n Bokser wie se vertoning groot belangstelling lok, is die belowende Asavela Peter van die Future Champs Boxing Club.

Hy’s beslis ’n kampioen in wording en behoort heelwat toeskouers te lok. Peter se teenstander is Szi Mkhanzi van die Grass Roots-boksklub.

Pryse

Musiek en vermaak is ook deel van die verrigtinge.

Persone wat sal optree, is Gqom DJ’s, ’n gospel-optrede deur Nomzamo So­tiya asook die Salvation-kerkkoor.

Daar sal ook pryse (sommige gratis) en massiewe afslag vir die winkel se opening beskikbaar wees.

Die organiseerder, Jeremy Bean, sê die toernooi bring mense van alle uithoeke bymekaar.

Hy sê ook dis ’n belangrike toernooi, veral omdat dit in Philippi gehou word.

Daar word ook vir die jongspan voorsiening gemaak met springkastele en lekker pretritte.

Vir meer inligting hieroor, kontak Bean (jeremybean1­@ gmail.com) of bel Lucinda Maseko by 076 903 7391.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters