3 maande gelede
Jong drome lê aan skerwe
JURIE ROUX Foto: GALLO IMAGES  ~ 

’N HELE generasie van die rugby­wêreld se beste junior rugbyspelers gaan nou nie die kans kry om hulle land op o. 20-vlak te verteenwoordig nie.

Dit volg nadat Wêreldrugby (die beheerliggaam) besluit het om vanjaar se Wêreldtoernooi vir o. 20’s weens die Covid-19-pandemie te kanselleer.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ook besluit om die Junior Springbokke se friendlies teen ander o. 20-spanne af te las.

Dié jaar se Wêreldtoernooi vir o. 20’s sou vanaf 28 Junie tot 18 Julie in die Italiaanse stede Viadana, Calvisano en Parma plaasgevind het.

Italië word in dié stadium die ergste van alle Europese lande deur die uitbreking van die pandemie geraak.

Die Junior Springbokke sou as voorbereiding vir dié toernooi na Brittanje – wat self kwaai getref is deur Covid-19 – gereis het om in Mei teen spanne van die Ses Nasies te speel.

Hulle sou ook in April wedstryde teen die spanne van Georgië en Argentinië gespeel het.

“Dit is natuurlik baie teleurstellend vir Chean Roux (afrigter), sy spelers en die bestuurspan, maar hierdie drastiese stappe is belangrik om hulle veiligheid te verseker, het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, oor die drastiese besluit gesê.

“Desperate tye vra vir desperate stappe, en as wêreldburgers is dit belangrik vir ons almal om die nodige stappe te doen om dié pandemie te beveg.

“Ek wil die spelers, afrigters en bestuur bedank vir al hulle harde werk die laaste paar maande, en ek wil hulle ook bemoedig om aan te hou die harde myle insit – al is dit nou buite die opset van deelname in spanverband en as deel van die huidige aandrang op social distancing,” het Roux gesê.

Hy voeg by: “Ons gaan die situasie voortdurend monitor en dan saam met die direkteur van rugby, Rassie Erasmus, moontlike scenario’s beplan ten opsigte van die pad vorentoe vir die Junior Springbokke en ons o. 19-Hoëprestasiegroep.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters