15 dae gelede
Japan gooi kat in duiwehok met Ierland-wen
leier duisend! Lappies Labuschagne, kaptein van Japan, op die aanval vir Japan teen Ierland. Foto: REUTERS  ~ 

TOE doen Japan dit weer!

Die Wêreldbeker-gasheer het vriend en vyand verras deur Ierland, een van die gunstelinge in die toernooi, met 19-12 te klop.

Japan het in die vorige World Cup in 2015 vir een van die grootste skokke in wêreldsport gesorg toe die Brave Blossoms die Springbokke in Brighton met 34-32 geklop het.

En net om te wys dat dit nie ’n vloekskoot was nie, klop hulle toe gister die Iere voor ’n fanatiese tuisskare in Shizuoka.

Ierland het die vroeë druk van Japan goed geabsorbeer en twee keer gaan druk ná twee dwarsskoppe deur Jack Carty – eers vir Garry Ringrose (senter) se drie en toe ’n chip kick na die heelagter Rob Kearney vir die Iere se tweede drie.

Drie strafdoele deur Yu Tamura (losskakel) het Japan egter in die game gehou en ondanks goeie aanvalswerk deur die tuisspan, het die twee spanne gaan water drink met die telling 12-9 in die Iere se guns.

Ondersteuning

’n Skitterende span-drie in die 59ste minuut, afgerond deur Kenki Fukuoka (plaasvervanger-vleuel), was die keerpunt in die wedstryd.

“Ons kon julle fanatiese ondersteuning hoor, veral in die laaste 10 minute. Dankie dat julle vandag uitgekom het,” het Lappies Labuschagne, Japan se SA gebore kaptein, ná die game gesê.

Ierland se volgende wedstryd is Donderdag teen Rusland, terwyl die WB-gasheer Saterdag teen Samoa te staan kom.

Labuschagne het self ’n barshou gespeel. Hy is een van die redes waarom Japan die Iere gekortwiek het.

Sodoende het die Japanners die kat in die spreekwoordelike duiwehok losgelaat. Hy kan nou as die eerste gekeurde span uit sy groep kwalifiseer vir die kwarteindronde.

Dan wag daar ’n moontlike ontmoeting met die Springbokke.

Die Brave Blossoms sal egter nou albei hulle oorblywende wedstryde moet wen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters