14 dae gelede
KYK: Jantjies glo dit nog nie
DRIEËVRAAT: Herschel Jantjies duik op skouspelagtige wyse oor vir een van sy drieë vir die Bokke.  ~ 

TOYOTA CITY. – Herschel Jantjies soek na woorde om sy ongelooflike opgang in internasionale rugby te beskryf.

Die 23-jarige boorling van Kylemore in Stellenbosch was Saterdag in sy sesde toets vir Suid-Afrika teen Namibië by die Rugby World Cup in aksie.

Dinge het vanjaar só vinnig vir hom gebeur dat hy dit nog nie juis kan glo nie.

Hy het voor gister se game hier in die Toyota Stadion aan Son op Sondag gesê: “Hoe ek alles tot dusver hanteer en by my omstandighede aanpas, is seker die vraag wat die meeste gevra word. Ek weet nóú nog nie hoe om dit te beantwoord nie.”

Die woelige skrumskakel staan net 1,67 m in sy rugby­kouse en weeg skaars 75 kg.

Hy vertel: “Ek probeer maar altyd net om my bes te lewer. Soos enige jong speler wou ek maar nog altyd ’n Springbok word.

“Ek sou nooit kon glo dat dinge só gou kon gebeur nie. By die WP het ek nie eens gedink ek gaan ’n start in Superrugby kry nie. Enigeen wat so ’n kans kry, moet maar net seker maak hy gryp dit met albei hande aan.”

Herschel sê hy het altyd opgekyk na spelers soos Breyton Paulse, Francois Hougaard en Fourie du Preez.

Buite Suid-Afrika het hy baie gehou van Mike Phillips van Scarlets. Hy het een game vir Scarlets teen die Cheetahs in die Pro14-kompetisie in Bloemfontein gespeel. Hy’t op die bank vir Phillips gesit.

“Dit was baie spesiaal gewees. Toe Francois Hougaard vir die Bokke gespeel het, wou ek baie graag soos hy gespeel het.”

Herschel voeg by wyle Chester Wil­liams, die legendariese Bok-vleuel, en die voormalige Bok-skrumskakel Bolla Conradie, wat sy coaches by die UWK was, het ’n groot rol in sy loopbaan gespeel.

“Coach Chester het my ’n lifeline gegee. Mag hy in vrede rus. Ek is baie dankbaar teenoor hom. Coach Bolla en coach Chester saam was net vir my amazing mentors.

“Ek het baie by coach Bolla geleer. Hulle het my geleer om my rugby te geniet en om in elke game net beter te probeer wees.

“Ek het my tyd by die UWK baie geniet en dit saam met my gevat na die Bokke.”

By die Bokke is Elton Jantjies nie net Herschel se skakelmaat nie, hulle is ook kamermaats.

Verwagtinge

“Ek het nou die dag vir Elton gesê as ek ’n game deurgaan waar ál my passes solid was, is dit vir my lekkerder as om ’n drie te gaan druk of ’n line break te maak.

“Ek streef daarna om soos ’n Aaron Smith (All Black-skrumskakel) te pass. Jy kan nie die excitement compare van ’n drie druk nie, maar vir my is dit baie meer bevredigend as my aangeë almal spot on in ’n game was.”

Herschel sê hy wil nie vir homself te veel verwagtinge vir die World Cup skep nie. Sy fokus is net op die span en hoe hy sy spel kan verbeter. “Sover is dit ’n great ervaring. Ons het ’n goeie groep ouens. Dít is wat dit alles so spesiaal maak. Ek glo ons kan ál die pad gaan.”

Herschel Jantjies se loopbaan tot dusver.

Hy het die Westelike Provinsie in 2012, 2013 en 2014 op o. 16-vlak verteenwoordig. Hy het voortgegaan om die Kapenaars op o. 19- en o. 21-vlak te verteenwoordig. In 2016 het hy sy buiging vir die Streeptruie se senior span in ’n kwalifiseringstryd in die Currie Cup gemaak.

In 2017 het hy vier keer vir die WP in die SuperSport Rugby Challenge gespeel. Aan die einde van daai jaar het Jantjies in een game vir Scarlets – ’n klubspan van Wallis – as plaasvervanger uitgedraf in hulle Pro14-stryd teen die Cheetahs in Bloemfontein.

Skitterdrieë

Aan die einde van 2018 het Jantjies sy Superrugby-buiging as ’n replacement vir die Stormers teen die Sharks gemaak.

In Julie vanjaar het hy ’n droomdebuut vir die Springbokke in die Rugby Championship teen Australië in Johannesburg gemaak. Hy het twee skitterdrieë in die sege van 35-17 oor die Wallabies gedruk.

In die Bokke se volgende toets teen die All Blacks het hy die Bokke se enigste drie in die 79ste minuut gescore om ’n gelykopuitslag van 16-16 af te dwing. Hy het dus ’n ongeloof­like drie drieë in sy eerste twee toetse in ’n Bok-trui gedruk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters