3 maande gelede
Janneman Cobras se ster
presteerders: Rory Kleinveldt, Janneman Malan, Dane Piedt en Vernon Philander met hulle toekennings.Foto’s: MARK WARD  ~ 

“DIT is ’n leë gevoel om drie toekennings te kry, maar my span kon niks trofeë wen nie.”

So het Janneman Malan (23) hom uitgelaat nadat hy Vrydag die Cape Cobras se award vir speler van die jaar, spelers se speler van die jaar, sowel as jong speler van die jaar ontvang het.

Dié broer van die mede-Cobra-speler Pieter het egter die sentimente van talle van sy spanmaats en die gaste by die spoggeleentheid in die Nuweland-sta­dion gedeel oor die Cobras se droewige 2018/’19-seisoen. Die Cobras kon geen silwerware in die drie nasionale kompetisies verower nie.

Janneman het vanjaar 821 lopies in die meerdaagse reeks aangeteken, 435 in die Momentum-eendagreeks en 235 in die T20-reeks. Hy het ook sy debuut as Protea-speler gemaak én in twee internasionale T20-wedstryde teen Sri Lanka gespeel.

“Ál wat ek nou kan sê, is dat ons as span baie gemotiveer is om volgende seisoen te vergoed vir wat ons nie vanjaar kon vermag nie.

“Persoonlik is dit vir my ’n eer om die toekennings te kon kry. Maar aan die einde van die dag is dit empty,” het Malan verduidelik.

Nabeel Dien, CEO van die Cobras, het in sy toespraak sy spelers die leviete­ voorgelees.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons met geen silwerware in die kabinet kan spog nie. Daar was baie positiewe verwikkelinge, maar aan die einde van die dag word ons gemeet aan die getal trofeë,” het Dien stoom afgeblaas.

Ashwell Prince, afrigter van die Cobras, het hulde gebring aan JP Duminy, wat sy uittrede uit alle plaaslike krieket, behalwe die Mzansi Superliga, aangekondig het.

Duminy sal egter nog vir die Proteas se T20-span beskikbaar wees.

Ander awards is: Meerdaagse reeks-speler: Dane Piedt; Momentum-eendagspeler: Rory Kleinveldt: T20-speler: Vernon Philander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters