2 maande gelede
Jake bied pote dalk O.P.- kans
Gryp hom, Kings! Pote Human soek ’n nuwe pos.  ~ Gallo Images

JAKE White se koms na Loftus Versfeld kan dalk net die weg baan vir Pote Human om by die Sou­thern Kings betrokke te raak.

Human is nou ’n verstoteling by die Bulls nadat White as nuwe direkteur van rugby én hoofafrigter vir die 2021-seisoen aangewys is.

Human se kontrak verstryk einde Oktober, wat beteken dat hy dan werkloos is.

Die Kings adverteer juis nou al maande vir ’n breier, terwyl die oud-Springbok-voorryman Robbi Kempson in dié pos waarneem.

Human is in hart en siel ’n OP-man.

Hy het in Despatch grootgeword en ken OP-rugby dus soos die palm van sy hand. Die nuwe Kings-eienaars behoort dus beslis in Human se rigting te kyk.

Logies

Die nuwe denkwyse in die OP is om sy eie spelers te behou en te verhoed dat die bestes na ander unies uitwyk.

Daarom sal dit ook net logies wees om ’n afrigter uit eie geledere aan te stel.

Dit sal ’n verrassing wees as Human nié belangstel nie.

Dis ook uiters onregverdig van fans om in die sosiale media te sê Human kom nie die mas by die Bulls op nie.

Watter afrigter sou beter gevaar het as hy Handré Pollard, RG Snyman, Jesse Kriel, Schalk Brits, Duane Vermeulen, Jason Jenkins én Lood de Jager op een tydstip verloor het?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters