2 maande gelede
Invoerproduk van die Madibaz beïndruk
Glibberig: Twum-Boafo bars deur die Rhodes-universiteit se verdediging. Foto: Deon Ferreira  ~ 

DIE Nelson Mandela-universiteit (Madibaz) het ’n invoerproduk van die Wes-Indiese Eilande.

Dis ’n man met Carib­bean flair en Afrika-krag op senter.

En dís net die booster wat die studente nodig het om hulle eerste Varsity Shield-titel te verower.

Die sterk senter Josiah Twum-Boafo (21) blink reeds uit in die Madibaz se eerste seisoen in die Shield.

Twum-Boafo is fris en sterk en bars met gemak deur verdediging.

Hy het vaart en besoek die doellyn graag.

Sy spel het bygedra daartoe dat die Madibaz sover drie agter­eenvolgende oorwinnings behaal het.

Al dié oortuigende oorwinnings plaas die span loshande boaan die puntelys.

Sy krag, vertel Twum-Boafo, is van sy pa en sy flair van sy ma.

Hy sê: “My pa is van Ghana en my ma is van Trinidad en Tobago, maar ek is in Suid-Afrika gebore; in Butterworth.”

Hy en sy twee broers, Jesse en Joel, is bekend as die drie Jays.

Twum-Boafo vertel: “Ek is die mees sportiewe een en hulle is meer akademies, maar hulle geniet ook sport.”

Hy het in 2006 begin rugby speel toe sy koshuismoeder by Graeme College in Grahamstad hom aangeraai het om dit te doen.

Hy sê: “Ek was dadelik mal oor rugby, en dis basies waar alles begin het.”

In 2013 het hy die Oostelike Provinsie (OP) in die Grant Khomo-rugbyweek verteenwoordig en is later daardie jaar vir die SA Groen-span gekies.

In 2014 het hy die OP-distrik­span op die Cravenweek-rugby­toernooi verteenwoordig.

Die volgende jaar het hy na Port Elizabeth verhuis en by Grey High begin skool loop.

Twum-Boafo sê: “Ek het my nogal maklik gevestig daar, veral omdat ek baie vriende gehad het wat saam met my in die provinsiale spanne gespeel het.”

Hy het die Cravenweek daardie jaar misgeloop weens ’n besering.

Hy het hom ná skool soos baie talentvolle spelers in die provinsie by die OP-rugbyakademie aangesluit. Robbie Kempson en Phiwe Nomlomo was toe in beheer.

Hy vertel: “Ek het vir die OP se o. 19- en o. 21-span gespeel en toe nooi Alan Zondagh my na die SA Rugby-akademiekamp.”

En daarna was dit die Madibaz. Maar, sê die jong senter, sy lewe is darem nie net rugby nie.

Hy sê: “Ek geniet dit om alle sport te kyk en aan party neem ek sosiaal deel. Ek hou van atletiek, krieket, sokker en tennis. In my vrye tyd speel ek graag saam met my broers en vriende.”

Die Madibaz se breier, Jarryd Buys, is die ene lof vir Twum-Boafo.

Buys sê: “Jo is ’n baie talentvolle speler en ’n perfekte gentleman van die veld.

“As jy spesifiek oor ’n studentekompetisie praat, pas dit Jo soos ’n handskoen. Hy is ’n student wat sy akademiese loopbaan ernstig opneem en sy sport ook verantwoordelik bestuur.”

Die Madibaz speel môre in die Peter Booysen-stadion teen die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters