15 dae gelede
Huldeblyke na baseball-ster Apie sterf
APIE KITCHINGFOTO VERSKAF  ~ 

Hy was oor baie jare ’n groot staatmaker vir die OP en die Park-klub, waar hy ook rugby gespeel en afgerig het.

Die voormalige Springbok catcher Pietie Carlson sê Kitching was een van die beste kortbyspelers wat hy in baseball geken het.

“Ek onthou ook goed dat Apie ’n gereelde lid van die OP-span was toe ek in 1965 my debuut gemaak het.

“Hy het ’n paar jaar in Transvaal gewerk ná ’n aanloklike werksaanbod en by sy terugkeer na die Baai was hy ook betrokke by sagtebal en by afrigting.

“Apie het later die OP en Park se baseball-span afgerig.

“Hy’t sy hele lewe aan baseball gewy en ook vir General Motors se eerste rugbyspan gespeel.

“Apie was beslis een van die grotes van sy tyd.”

’n Ander oud-OP-speler, Alfie Stander, sê Kitching was ’n uitgeslape speler en ’n opperste platjie.

“Hy’t ook skrumskakel gespeel.

“In ’n spesifieke wedstryd het Apie se agttal gesukkel in die skrums.

“Toe die skrum wéér sak, het hy gemaak asof hy die bal ingooi en vinnig na die losskakel laat loop. In die OP word nou nog daaroor gepraat.

“Apie was streng, maar hy was almal se vriend.

“Rus in vrede, my jarelange vriend.”

Uit Engeland laat weet ’n ander voormalige OP-speler, Clinton Carlson, dat Kitching in die jare sewentig ’n lid van ’n OP-span was wat ’n uiters sterk SA Uitnodigingspan op die GM-veld in die Baai geklop het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters