3 maande gelede
History wink vir Stellies
MOONTLIKE tuiste: Coetzenburg-stadion wag.Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N MENS kan nie oor sokker in Stellenbosch gesels sonder om wyle Reggie Jantjies se naam te noem nie.

Dit was ook dié Stellenbosser se visie en droom om eendag ’n beroepspan van sy tuisdorp in die Premierliga te hê.

Die voormalige Cape Town Spurs- en Hellenic-legende was oortuig daarvan dat Stellenbosch oor die talent beskik om met die land se beste PSL-spanne mee te ding.

Jantjies is dalk nie meer met ons nie, maar sy droom is nou op die punt om ’n werklikheid te word.

Dis natuurlik weens die vernuf en bekwaamheid van Steve Barker, wat die sweep reg geklap het om sy Nasionale Eerste Liga-span in ’n kampioenspan te ontwikkel en hierdie studentedorp op die map te sit.

Nes Jantjies is Barker ook baie geliefd onder die locals.

Stellies is nou een sege weg van die liga-titel. Met die maksimum punte Sondag teen Maccabi FC op Idasvallei, sal Barker-hulle die titel kan verower.

Dis ook nie dat Stellenbosch se sukses oornag in sy skoot geval het nie. Hy het ’n paar seisoene gelede te kort geskiet toe hy in die promosie/relegasie-uitspeelreeks uitgesak het.

“Ons het ’n paar topspelers verloor en was in ’n boufase wat die span betref,” het Barker uitgewys.

“Ons het die laaste drie seisoene baie bestendig vertoon en het die meeste punte van enige span in die land ingesamel, jy weet...

Boeke

“Die doelwit was en is om die span na nuwe hoogtes te neem, en ons is wel op pad daarheen. Die sleutel was dat daar reeds ’n goeie fondasie gelê is waarop ons kon bou.”

Die 51-jarige boorling van Lesotho ken die NFD-liga baie goed. Hy was ’n hele paar seisoene op die boeke van die Universiteit van Pretoria se NFD-span.

Barker is van mening dat die NFD se gehalte – op en van die veld – ontsettend baie verbeter het en dis ’n moeilike liga om in mee te ding.

“Mense besef nie altyd hoe verskriklik baie ons moet travel nie en dit vat baie uit jou uit,” het die voormalige Tuks-afrigter bygevoeg.

“Jy hoef nie verder as die Nedbank Cup te kyk met die impak wat die NFD-spanne in die vroeër rondes gemaak het nie.

“Kyk, daar is TS Galaxy in die final teen die (Kaizer) Chiefs.”

Volgens Barker is dit verblydend dat hulle lot in hulle eie hande is.

“Ek het die spelers die vorige paar wedstryde gewaarsku as die laaste wedstryde kom, moet dit op óns terms wees.

“Die spelers is bewus van die harde werk wat ons die laaste tyd insit.

“Dis nou hulle beurt om die vrugte daarvan te pluk.

“Ons benader die stryd met een aspek in gedagte en dis om te wen,” het Barker afgesluit. 

PASSIEVOL: Stellenbosch se entoesiastiese fans maak die atmosfeer so vyandig moontlik vir besoekende spanne. Foto: GALLO IMAGES
gedug: Stellenbosch se span vir Sondag sal nie veel van dié groep verskil nie. Foto: BACKPAGEPIX
MOONTLIKE tuiste: Coetzenburg-stadion wag.Foto: JONATHAN LESTRADE
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters