21 dae gelede
Herschel wys hy is beste nr. 9 vir Japan
DRIEËVRAAT: Herschel Jantjies druk gister sy derde drie in sy tweede toets vir die Bokke.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

HERSCHEL Jantjies vir president!

Vir ’n tweede agtereenvolgende week het die kleinste mannetjie op die veld die show gesteel.

Nadat hy laas week in sy toets­debuut ’n doring in die vlees van die Wallabies was, het hy dié keer die hart van die beste span in die wêreld in sy eie agterplaas gebreek.

Die 23-jarige Springbok-skrumskakel se drie in die doodsnikke het ’n gelykopuitslag van 16-16 teen die All Blacks in Wellington afgedwing. Die Kiwi’s het in die rustyd met 7-6 voorgeloop.

Jantjies het Faf de Klerk in die 44ste minuut vervang nadat die blondekop die veld met harsingskudding moes verlaat.

Vertoning

Dit was dalk ’n blessing in dis­guise, want Jantjies het onmiddellik ’n verskil gemaak met sy blitsige diens agter die oond en sy uitstekende voorgevoel vir die spel.

Sy drie het memories teruggebring van Ricky Januarie se wendrie, ook in die doodsnikke in 2008 teen die All Blacks in Dunedin.

De Klerk was nie gister op sy beste nie. Hy kyk te veel rond voordat hy die bal pass, terwyl Jantjies onmiddellik weet wat om te doen. Jantjies het met dié vertoning gewys dat hy voortaan by die World Cup die games moet start, terwyl De Klerk as plaasvervanger aangewend moet word.

Jantjies is agterna gevra wat deur sy gedagtes gegaan het toe hy opgegaan het vir die bal in daai laaste beweging. Hy het in ’n SA Rugby-video op Twitter gesê: “Om eerlik te wees, ek het nie rêrig gedink nie ... Ek wou net die bal in my hande kry en die try score.

“Ek kon dalk nader (aan die pale) gedruk het om dit makliker te maak. Gelukkig het hy (Handré Pollard) met ’n great skop onder groot druk vorendag gekom.”

Dit was ’n game van twee helftes. Die Bokke het die gebiedsvoordeel en balbesit in die eerste helfte heeltemal oorheers. Ál wat hulle egter vir hulle moeite kon wys, was twee strafdoele deur Pollard.

In die tweede helfte het Nieu-Seeland meer gebiedsvoordeel en balbesit geniet.

Die All Blacks behoort nie net bekommerd te wees met hulle flou vertoning nie, maar Steve Hansen, afrigter, sal ook worry dat die ernstige skouerbesering wat sy ster-slot Brodie Retallick opgedoen het, hom dalk uit die World Cup kan hou.

Benewens Jantjies was Cheslin Kolbe waarskynlik die beste agterspeler op die veld. Willie le Roux het nie sy beste game gehad nie. Sy vertonings is nog te wisselvallig.

Lukhanyo Am was great met sy lynspoed op die verdediging. Daar moet egter meer spasie vir hom op die aanval geskep word.

Die Bokke se voorry het ook baie beter gelyk toe Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi en Beast Mtawarira in die tweede helfte opgekom het. Kwagga Smith het hard probeer, maar Francois Louw het goed gelyk toe hy hom vervang het.

Die gereelde kaptein, Siya Kolisi, moet nog van ’n besering terugkeer.

Die Bokke kry nou ’n blaaskans vir ’n week. Hulle gaan in Nieu-Seeland aanbly voordat hulle Salta toe reis om Argentinië op 10 Augustus aan te durf. As hulle die Poemas met ’n bonuspunt klop, kan hulle die Rugby Championship vir die eerste keer sedert 2009 wen.

Die Bokke se volgende game teen die All Blacks is hulle eerste game van die World Cup op 21 September in Yokohama.

Puntemakers:

SUID-AFRIKA – drie: Herschel Jantjies, doelskop: Handré Pollard, strafdoele: Pollard (3).

NIEU-SEELAND – drie: Jack Goodhue, doelskop: Beauden Barrett, strafdoel: Barrett (2), Richie Mo’unga.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters