13 dae gelede
Held se dood betreur in SA
MEDELYE: Beresford Williams, adjunkpresident van die KSA, sê ons groet ’n held. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE krieketgemeenskap deel in die hartseer oor die skielike dood van die oud-Bok Chester Williams.

Beresford Williams, die adjunkpresident van Krieket Suid-Afrika (KSA), het sy medelye teenoor Chester se familie, vriende en oudspanmaats uitgespreek.

Die adjunk het die 49-jarige Chester as ’n “giant” van Suid-Afrikaanse sport beskryf.

“Sy deelname aan 1995 se suksesvolle Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, was ’n waterskeiding-oomblik in ons land. Hy was een van ons beste sporthelde.

“Ons as krieketgemeenskap groet ’n held,” het hy gesê.

Spraakloos

Ashwell Prince, afrigter van die Cape Cobras en voormalige Protea-speler, het sy skok oor Chester se dood op Twitter uitgespreek.

“Ek is in skok deur die dood van Chester Williams. Hy was ’n ikoon en legende van Suid-Afrikaanse sport.”

Ook die oud-Bok Breyton Paulse het getwiet: “Ek is spraakloos. RIP, pel. Ons het ’n ikoon verloor. Ek dink aan sy vrou, Maria, en hulle kinders.”

Chester het van 1993 tot 2000 altesaam 27 toetse vir die Springbokke gespeel.

Sedert sy uittrede was hy aktief betrokke by afrigting.

Hy was onder meer as breier betrokke by die Springbok-sewesspan, die Superrugby-span van die Cats asook die Pumas.

Hy was ten tyde van sy dood direkteur van rugby by die Universiteit van Wes-Kaapland.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters