15 dae gelede
Haznar wil hom vestig in die span
Michal Haznar op volle vaart vir die Streeptruie.  ~ Gallo Images

DIE Stormers se talentvolle nuwe middelveldspeler se pa is ’n man van Pole wat sy ma in Windhoek ontmoet het.

Dit is waar Michal Haznar, die Westelike Provinsie- en Stormer-senter, gebore is.

Die 26-jarige het dié week met Son op Sondag oor sy vooruitsigte vir die nuwe Superrugby-seisoen gesels.

Hy sê: “My pa het vir my en my twee broers ons name gegee. My naam is nie Michael nie. Dis Michal met ’n lyn deur die L. Dit verander eintlik die uitspraak van my naam na Michau.

“Die belangstelling in rugby kom van my oupa se kant aan my ma se kant van die familie – die Septembers van Worcester.

“Hulle het destyds vir Villager Worcester gespeel. Hulle was ’n groot rugby-familie. So, ek was gebore in ’n rugby-familie.

“Maar my loopbaan het eers begin toe ek in 2011 Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch in graad 11 begin bywoon het.

“Daar het ek die eerste span gehaal en die Westelike Provinsie in die Cravenweek verteenwoordig. Ná dit het ek by die WP Rugby Instituut aangesluit en daarna vir die Lions gaan speel.

“Ná die Varsity Cup in 2018 was ek steeds deur die WP gekontrakteer. Die Varsity Cup was ’n goeie leerskool.

“Laas jaar in April het ek opgeskuif na Griekwas.

“Daar het ek in die SuperSport Challenge gespeel.

“Dit was goed, want ons het die kompetisie gewen. Dit was ook great exposure en ’n goeie toernooi om in te speel.

“Ná dit was ek geseën om in ál die games in Griekwas se Currie Cup-veldtog te speel. Ons het ál die pad na die eindstryd gegaan, maar ongelukkig in die final vasgeval. Dit was nietemin ’n nice en goeie ervaring en ’n great platform en stepping stone om my talente ten toon te stel.

“Mense sê dit is droog en eensaam in Kimberley, maar ek is ’n lone ranger. Ek hou myself besig deur te lees en Xbox te speel.”

’n Speler na wie hy opkyk as ’n rolmodel is Tana Umaga, sowel as spelers soos Brian O’Driscoll, Luke McAlister en Rene Ranger.

Hy sê daar is ’n paar Suid-Afrikaners wat vir hom uitgestaan het, maar die enigste naam wat hy snaaks genoeg kan noem, is Henry Honiball.

Met Damian de Allende wat nie beskikbaar is nie en Dan du Plessis wat tans met ’n besering buite aksie is, sukkel die Stormers vanjaar met diepte in veral die senter-posisie. Haznar kan dalk die geleentheid gebruik om homself in die span te vestig.

“Ja, ek voel dit is ’n goeie tyd om nou die step-up te maak. Ek het laas jaar ’n goeie Currie Cup gehad. Daar is ’n bietjie van ’n leemte op senter en hopelik kan ek daai leemte vul, veral in die nr. 13-trui.

“Ek verkies buitesenter, maar het laas jaar ervaring in die nr. 12-trui opgedoen. Ek het in die Varsity Cup ook daar gespeel.

“Tans het ons nie baie ervaring in die middelveld nie, maar hier is baie talentvolle youngsters.

“Ek wil net seker maak ek is fisiek en geestelik reg ingestel om elke game te perform teen die Nieu-Seelandse, Australiese en Suid-Afrikaanse spanne.

“Dis ook baie nice om terug te wees in ’n bekende omgewing met familie en vriende hier by die Stormers.

“Die voorseisoen het baie goed afgeloop. Laas jaar het ons baie hard aan ons kondisionering gewerk. Die regte tegniese werk begin nou in alle erns.

“Ek is excited om ’n bietjie game time te kry en sien baie uit na die 2020-seisoen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters