8 dae gelede
Hamilton, Vettel nie saam
Geen vennootskap: Sebastian Vettel en Lewis Hamilton in gesprek. Red Bull sê die Brit pas nie by sy beleid in nie.  ~ Gallo Images

DAAR is geen Lewis Hamilton of Sebastian Vettel in die toekoms van Red Bull Racing nie.

Daar is gerugte dat die Red Bull-wedrenspan moontlik twee van F1 se huidige supersterre in dieselfde span wou saambring.

“Nee,” was die antwoord van Red Bull se baas, Christian Horner, ondanks die feit dat Hamilton en Vettel albei aan die einde van hierdie jaar sonder kontrak is.

Toe hy gevra is oor die 35-jarige Hamilton, het Horner aan Reuters gesê: “Hy sou nie by ons program inpas nie. Ons het Max (Verstappen).

Junior

“Ons het altyd die beleid gevolg dat ons in jong talent sal belê, daardie talent sal koester en verder ontwikkel. Lewis pas nie by daardie beleid in nie.”

Vettel is verreweg Red Bull Racing se suksesvolste junior. Hy het aan die begin van die huidige dekade vier wêreldtitels met die span gewen en is in die verlede gekoppel aan ’n terugkeer na die span.

Sy Ferrari-toekoms lyk onseker nadat Charles Leclerc, wat 10 jaar jonger is, ’n nuwe langtermyn-ooreenkoms in die winter onderteken het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters