21 dae gelede
Groot respek vir Klopp - Lampard
FRANK LAMPARDFoto’s: GETTY IMAGES  ~ 

FRANK Lampard, afrigter van Chelsea, is lugtig vir die gevaar wat Jürgen Klopp se kliniese Liverpool-span inhou.

Die Blues pak dié Champions League-kampioen vandag op Stamford Bridge in ’n Engelse Premierliga-wedstryd.

Lampard en Chelsea het reeds klei getrap teen die Merseysiders. Dit was in ’n Europese Super Cup final, net voor die seisoen begin het.

Ook weet Lampard Liverpool, wat tans die pas aangee, het onafgehandelde sake in die liga.

Die Reds wil nou ’n drie dekade lange misoes van Premierliga-titels tot ’n einde bring.

Lampard het ook sy eweknie Klopp behoorlik geprys vir sy vernuf en bekwaamheid met die Reds.

“Ek respekteer hom (Klopp) baie,” verduidelik Lampard.

“Dit was nogal lekker om swaarde te kruis met hom in die Super Cup.

“Hy ploeter nie rond nie en dis waarom hy so suksesvol is.

“Gee hulle ’n tweede kans en jy sal gestraf word,” het die 41-jarige Chelsea-legende bygevoeg.

Lampard sal natuurlik weer na sy jong striker Tammy Abraham kyk om sy aanval te lei.

Abraham het in Chelsea se vorige wedstryd teen Wolves ’n hat-trick gescore en lewer tans kookwaterspel.

Terselfdertyd het Lampard uitgewys Abraham sal veel meer uitdagings teen ’n speler soos Virgil van Dijk ervaar.

“Van Dijk se vertonings maak hom een van die topspelers,” het Lampard verder gesê.

“Dit gaan ’n ware toets wees vir Tammy, maar hy leer nog, so dis oukei,” het Lampard uitgewys.

Tackle

Chelsea hou ook asem op oor Mason Mount, sy nuwe jong sensasie.

Mount het ’n besering opgedoen in sy Champions League-groepwedstryd teen Valencia.

“Ons het daardie tackle gesien en dit het sleg gelyk,” het Lampard gesê.

“Ons probeer hom regkry. Ons gaan nie waag nie, want daar is ’n groter prentjie. Ons gaan ons bes probeer,” aldus Lampard.

  • Vandag se game op Stamford Bridge skop 17:30 op SuperSport se kanaal 203 af.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters