29 dae gelede
Gordon se bloed is groen
Darren GordonFotoVERSKAF  ~ 

AS DIE wêreldkampioen word Nieu-Seeland altyd as die barometer gebruik om uitmuntendheid in rugby te meet.

Geen wonder die opgewondenheid van Darren Gordon van Stellenbosch ken geen perke nie. Die belowende 25-jarige skeidsregter is op pad na die land van die silwer varing.

Gordon het ’n uitnodiging aanvaar om in volgende maand se Tag Rugby Ocean Invitational-bekertoernooi in Auckland as skeidsregter te gaan optree.

Dit is sy eerste besoek aan All Black-rugbyland.

Hy het verlede jaar ook aan die Tag Rugby Wêreldbeker-toernooi in Australië deelgeneem.

Dié toernooi in Nieu-Seeland lok jaarliks 3 000 spelers. Al neem net Nieu-Seelandse klubs deel, lok dit skeidsregters van reg oor die wêreld.

Gordon, ’n sportkoördineerder by die Laerskool Happy Valley in Silversands in die Kaap, kan nie wag om sy sakke te pak om een van sy drome te verwesenlik nie.

“Dalk was hulle beïndruk met my optrede verlede jaar in Australië,” skerts hy.

Opgang

“Op ’n ernstige noot. Dit is ’n great geleentheid vir my om as ’n Suid-Afrikaner deel van die toernooi te kan wees. Ek wil my land gaan trots maak.

“Nee, ek is nie ’n All Black-ondersteuner nie. My bloed is groen,’’ sê hy en lag breed.

Hy is ’n lid van die Westelike Provinsie se skeidsregtersvereniging, waarin hy opgang maak.

Ná sy Nieu-Seelandse ervaring beplan hy om in 2021 aan die Wêreldbeker-toernooi in Ierland te gaan deelneem.

Gordon het sy rugbytalente by die rugbyklub Stellenbosch Coronations geslyp.

“Ek is mal oor tag rugby. Dit is ’n baie vinnige sport en jy moet baie fiks wees om te kan deelneem,” het hy bygevoeg.

Tag rugby word wyd as ’n intrapfase vir die 15-man-weergawe gebruik. Elke speler bind ’n velcro-band om sy heupe en as ’n speler van die ander span dit raak, moet hy die bal aangee.

Tag rugby is in 1992 deur die Australiese rugbyliga-speler Perry Haddock begin toe hy junior-spanne in die Australiese Jersey Flegg Cup afgerig het.

Die opwindende sport word nou wêreldwyd gespeel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters