22 dae gelede
Gomaa prys Salah, maar kap Aguirre
KRY KRITIEK: Javier Aguirre, breier van die Egiptiese nasionale sokkerspan, makeer glo taktiek. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Egiptiese sokkerlegende Wael Gomaa het die superster Mohamed Salah geprys en die afrigter, Javier Aguirre, gekritiseer voordat die Afcon-gashere Uganda vandag in groep A pak.

“Ons is afhanklik van Salah en Trézéguet (Mahmoud Hassan) op die aanval, die vasbe­radenheid van die middelveldspeler Tarek Hamed en die briljante verdediging van Ahmed Hegazy,” het die beIN Sport-ontleder gesê.

Volgens Gomaa kom baie min van die afrigter in terme van sy span se spelstyl en hang alles eintlik net van die sterre se bydraes af.

Rekord

“Ons het geen taktieke of strategieë nie. Aguirre is so sleg met sy spankeuse en plaasvervangers,” het die voormalige Egipte- en Al Ahly-speler bygevoeg.

Dit sal die vyfde Afcon-botsing tussen dié lande wees. Egipte sal sy perfekte rekord wil behou en boaan groep A eindig.

Die Mexikaan Aguirre was verbaas toe sy span in die tweede helfte sy tempo verloor in die wedstryd teen die DRK. Hy oorweeg veranderinge.

“Baie spelers was uitgeput teen die Kongo en kort rus, so ek oorweeg dit om nuwe gesigte teen Uganda in die veld te stuur,” het Aquirre gesê.

Uganda lê tans tweede en sal vir die eerste keer sedert 1978 die uitklopfase van die toernooi bereik, maak nie saak wie van die twee spanne wen nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters