15 dae gelede
Goeie vertonings gee hoop vir toetsreeks
TEMBA BAVUMAFoto: GALLO IMAGES  ~ 

DIT is maar altyd moeilik om spelpeil in opwarmingswedstryde te meet, maar gee die Proteas ’n bietjie ruimte.

Die kolfvertonings van Aiden Markram, Zubayr Hamza en Temba Bavuma in die opwarmingswedstryd teen ’n Indiese Presidents­elftal skep egter groot moed vir die toetsreeks wat die komende week begin.

Die Suid-Afrikaners maak hulle gereed om Virat Kohli (kaptein) se Indiese toetsspan in ’n reeks van drie toetse die stryd aan te sê.

Markram het net 118 aflewerings nodig gehad om sy 100 lopies te moker in die driedagwedstryd wat gister in Vizianagaram onbeslis geëindig het.

Dit is Markram se tweede honderdtal in Indië.

Ruimte

Hy het in die vierdagwedstryd vir die SA A-span teen Indië se A-span ook ’n sprankelende beurt van 161 gespeel.

Maar dit is die 87 lopies van Bavuma wat die afrigtingspan – waarvan Enoch Nkwe die tydelike hoof is – ’n bietjie ruimte gee om te kan asemhaal.

Ook Hamza se 22 lopies lyk be­lowend in die aanloop tot die eerste toets wat Woensdag in Visakhapatnam begin.

Vernon Philander het ook sy veelsydigheid ten toon gestel met 48 vinnige lopies van net 49 balle.

Hy het ook twee paaltjies vir 27 lopies geneem.

Keshav Maharaj, wat saam met Dane Piedt meeding om die plek as die draaier in die span, het sy kans ’n aansienlike hupstoot gegee. Hy het 2/19 laat kantel.

Die Suid-Afrikaners het hulle beurt op 279/6 verklaar met die tuisspan wat op 265/8 gestaan het toe die wedstryd geëindig het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters