7 dae gelede
G’n kultuur van dwelmmisbruik
Aphiwe Dyantyi  ~ Gallo Images

ROBBI Kempson glo nie daar is ’n kultuur van dwelmmisbruik in Suid-Afrikaanse rugby nie.

Die coach van die Southern Kings sê hy het geen tyd vir die kritici wat Suid-Afrika se onlangse sukses by die World Cup in Japan deur ongegronde aantygings wil bederf nie.

En hier verwys hy na Marco Wentzel, ’n voormalige slot van die Bokke, wat twee keer in 2002 vir Suid-Afrika gespeel het.

Die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi is laas jaar as Wêreldrugby se deurbraak-speler van die jaar aangewys.

Die spoedvraat het voor die World Cup positief getoets vir die gebruik van ’n ver­bode middel.

Ná die Bokke se World Cup-sege was Wentzel een van die oudspelers wat sy mond oor dié omstrede kwessie in SA rugby uitgespoel het.

“Die ongelukkige feit is dat, as ons kyk na die laaste paar jaar in terme van die aantal rugbyspelers wat vir die gebruik van ver­bode middels gevang is, dan het die kritici ’n punt,” sê Wentzel.

“Dis ’n probleem en ek dink nie die mense wat die kwessie opgebring het, is feitelik verkeerd nie.”

Kempson, ’n voormalige Bok-stut wat in 37 toetse van 1998 tot 2003 vir die Bokke uitgedraf het, stem egter nie saam nie.

“As jy tasbare feite het, is dit ’n ander storie,” het hy aan RugbyPass gesê voor gister se Pro14-wedstryd tussen die Kings en Connacht.

“Die Kings-spelers word gereeld getoets. Dit is nie net vir steroïedgebruik nie, maar dit is ook vir dwelmmiddels vir ontspanning of wat dit ook al mag wees.

“Ek dink dit is ’n baie onverantwoordelike ding om oor ál die rugbyspelers in Suid-Afrikaanse rugby te sê.

“Dit is veral baie sleg as jy nie eens die kultuur van die land ken en nie betrokke is by die proses nie, en geen kennis dra wat daar gebeur het nie.

“Ek kan nie daardie soort opmerkings ondersteun nie.

“Ek dink dit vat van die shine weg van ’n fantastiese (World Cup) oorwinning vir ons land.

“Ek weet wat ons by ons unie (die Kings) probeer ontwikkel.

“Ek het vir die Stormers en die Sharks gespeel en ek weet presies wat in daardie omgewing aangegaan het.

“Sover ek weet, was daar geen misbruik van dwelms nie.”

Brian O’Driscoll, legendariese voormalige senter van Ierland, het mense gewaarsku om versigtig te wees wat hulle sê.

Fiks

“Ek dink nie jy kan vingers na iemand wys totdat individue positief getoets het nie,’ het hy aan RugbyPass gesê.

“Dit maak nie saak hoe groot spelers is of hoe fiks hulle is nie, die enigste tyd wanneer iemand beskuldig kan word, is wanneer hulle nie die toetse slaag nie,” het hy bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters