15 dae gelede
G’n Entstof, g'n rugby
Adrian JacobsFoto’s: GALLO IMAGES  ~ 

ADRIAN Jacobs glo geen toetsrugby sal gespeel kan word voordat ’n entstof vir die corona-virus gevind is nie.

Die voormalige Springbok-senter wat van 2001 tot 2011 vir Suid-Afrika in 34 toetse uitgedraf het, sê hy kan nie sien dat die Bokke vanjaar weer in aksie sal wees nie.

Hy het aan Son op Sondag gesê: “Ja, dis moeilik om te sien. Ek dink nie dit sal wys wees vir die Bokke om weer (vanjaar) te speel nie, aangesien daar nog nie ’n vaccine vir die virus is nie.

“ ’n Mens wil maar ’n bietjie hoop het, maar ek sien nie rêrig dat daar enige rugby vanjaar gespeel gaan word nie.

“Ons kyk mos eerstens na die veiligheid van die spelers.”

Die 39-jarige boorling van Kraaifontein glo dis juis om dié veiligheidsredes dat hy nie rêrig kan sien dat daar vanjaar wedstryde gespeel gaan word nie.

Hy voeg by: “Ongelukkig gaan spelers kontrakte verloor. Dis maar hoe dit is.

“Dis ’n moeilike situasie, maar die realiteit is – ons moet eers kyk na die veiligheid van ons families. Ons almal wil hê die game moet gespeel word, maar veiligheid kom eerste.”

Wêreldrugby het Vrydag besluit om ál die interna­sionale toetse wat in Julie sou plaasvind, te kanselleer. Die Bokke sou ’n reeks van twee toetse teen Skotland op 4 Julie op Nuweland in Kaapstad en op 11 Julie op Kings Park in Durban gespeel het.

“Die geskiedkundige toets teen Georgië op 18 Julie in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth is natuurlik ook geskiedenis.

Jonathan Mokuena, voormalige Blitsbok-kaptein wat deesdae vir SuperSport as analis werk, glo die toetse wat nie meer gaan plaasvind nie, maak sake nou baie moeilik vir die res van die internasionale rugbyseisoen.

Die Bokke gaan dalk ook nie kans kry om hul titel in Augustus en September in die Rugby Cham­pionship teen die All Blacks, Wallabies en Poemas te verdedig nie.

Die voormalige losvoorspeler van die Lions, Cheetahs en Griekwas sê: “Skielik gaan die beplanning anders moet wees.

“Gewoonlik gebruik hulle die kleiner toetse teen spanne soos Georgië en Skotland om jong spelers blootstelling te gee.

“Dit word gedoen om te kyk hoe die spelers in die Bok-kultuur pas. Dit maak dinge ’n bietjie moeilik.

Vermoed

“Dis vir enige afrigter ’n groot uitdaging, want hy kan nou nie meer dié toetse gebruik om spelers geleenthede te gee nie.”

Mokuena voeg by: “Ek vermoed die jaareindtoer kan dalk nog plaasvind, maar ek dink nie daar sal enige toetsrugby in die nabye toekoms gesien word nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters