2 maande gelede
Gibson sal hou by resep
handvol: Vernon Philander kan in die komende toetse sy verwoesting van Sri Lanka se kolwers hervat. Foto: NETWERK24  ~ 

DIT is dalk die Proteas se laaste toetsreeks met Ottis Gibson aan die stuur wanneer die eerste krieketwedstryd Woensdag teen Sri Lanka in Durban begin.

Gibson se kontrak as afrigter van Suid-Afrika verstryk ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi.

Dit is onseker of Krieket Suid-Afrika (KSA) Gibson sal behou, veral omdat Engeland daarin belangstel om hom aan te stel.

Die rede hoekom die KSA Gibson­ bekom het, was om die Wêreldbeker te wen, maar in die proses is ’n trotse toetsrekord opgebou.

Daar was wel een glipsie – die Proteas is verlede jaar in Sri Lanka met 2-0 verniel.

Of dit sy laaste toetsreeks is of nie – Gibson sal nie die kans laat verbygaan om dié sakie reg te stel nie.

Soos Sri Lanka twee seisoene gelede ervaar het, is dit moeilik om in Suid-Afrika te wen. Die Proteas het toe met 3-0 gewen en dit sal ’n verrassing wees as dit dié slag nie 2-0 is nie.

Twee seisoene gelede was dit vir Sri Lanka onmoontlik om die boulwerk op vinnige blaaie met wip baas te raak.

Uitdagings

Kagiso Rabada en Vernon Philander het Sri Lanka vernietig deur saam 36 paaltjies te neem. Daar is geen rede om te dink dinge sal dié slag anders verloop nie.

Gibson se wenplan sal weer rondom sy naatboulers gebou wees, maar hy het ander uit­dagings. Gaan hy die draaier Keshav Maharaj inspan en op watter manier?

Die afrigter is ook gretig om Wiaan Mulder as veelsydige speler te gebruik.

Teen Sri Lanka kan Gibson nog met ’n verkeerde skuif wegkom, maar met die oog op die toekoms sal hy die beste maniere moet vind om Maharaj en Mulder te gebruik.

Sri Lanka se draaiers sal nie die Proteas knoop soos in sy eie toestande nie en hy is boonop onlangs in Australië en Nieu-Seeland afgeransel.

Sy keurders het probeer om dié bagasie van daardie nederlae af te skud deur die Proteas met heelwat nuwe bloed aan te durf.

Dit is ’n waagstuk, maar Sri Lanka moes iets doen om mededingend te wees.

Of dit gaan help, sal eers gesien moet word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters