7 dae gelede
Geveg in woestyn
LEKKE’ DJY! Andy Ruiz (regs) stuur Anthony Joshua planke toe.Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE besluit om Andy Ruiz se rematch teen Anthony Joshua in Saoedi-Arabië aan te bied, het hewige kritiek uitgelok.

Die kragmeting om die swaargewigbokstitel van die wêreld op 7 Desember in ’n dorp genaamd Diriyah, bring weke lange bespiegeling oor die venue tot ’n einde.

Ruiz, Mexiko se heel eerste wêreld­swaargewigkampioen, het geweier om in die Brittanje te boks, terwyl Joshua, ’n Brit, aangedring het dat die geveg in Cardiff beslis word.

Britse fans het heftig gereageer op die nuus.

In die sosiale media skryf Jack McIn­tyre Saoedi-Arabië is ’n “aaklige plek” vir die geveg.

Keuse

Ene Danny Burke kap na Eddie Hearn, die promotor: “Jy het dit gedoen, Eddie. Jy het 80 000 Britse fans in die gesig geklap. Jy behoort te onthou waar jy vandaan kom en wie jy verteenwoordig.”

Stephen Power skryf: “Swak keuse. Ek kan dit nie in woorde beskryf nie.”

Ook Amnestie Internasionaal het hom sterk uitgespreek teen die venue.

Hy sê in ’n sterk bewoorde verklaring weens menseregteskendings, die moord op die joernalis Jamal Khashoggi en die voortslepende oorlog in Jemen behoort Saoedi-Arabië geensins die gasheer vir die toernooi te wees nie.

Amnestie Internasionaal se hoof van veldtogte in Brittanje, Felix Jakens, het ’n beroep op Joshua gedoen om hom sterk teen Saoedi-Arabië se onheilspellende menseregtesituasie uit te spreek.

Ruiz het die wêreld in Junie geskok toe hy Joshua sy eerste nederlaag in 23 gevegte toegedien het.

Ruiz is vroeg in die geveg platgeslaan, maar het opgestaan om Joshua vier keer planke toe te stuur terwyl die wêreld in ongeloof toegekyk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters