27 dae gelede
Geluk draai teen Chippa in wedstryd teen Supersport
Sukkel: Thabo Rakhale (links) van Chippa United en Tebogo Mokoena van SuperSport United mol vir die bôl.  ~ Gallo Images

DIE Chilli Boys sal nou weer tot die sokkergode moet bid vir hulp in die Premiersokkerliga (PSL).

Dit volg nadat Chippa Vrydagaand in die Lucas Moripe Stadium met 3-0 teen SuperSport United vasgeval het.

Die Baaienaars het nie sleg gespeel nie, maar die geluk was nie aan hulle kant nie.

SuperSport het nie dieselfde foute gemaak as in die twee spanne se vorige ontmoeting toe Chippa met 1-0 gewen het nie.

SuperSport se Bradley Grobler was aan die brand en het die eerste van sy twee doele van die strafdoelmerk gekry nadat Chippa vir handball gestraf is. Met Grobler se twee doele het hy nou al 10 doele in die PSL aangeteken.

Chippa se aanvallers soos Augus­tine Kwem en Thabo Rakhale het goeie kanse op doel gehad, maar kon niks wegsit nie.

Rof

Chippa het selfs ’n strafdoel in die doodsnikke van die stryd gemis. Dit het net verder gewys dié was nie hulle aand nie.

Die Chill Boys se breier, Norman Mapeza, sê hy voel die telling van 3-0 lyk ’n bietjie rof.

“Ons het nie so sleg gespeel soos die telling voorstel nie, maar om die waarheid sê – ons kon net nie die bal in die doel kry nie. Dit is waar die verskil gekom het.

“Ons het baie kanse gemaak, maar niks gevat nie, so ons kan net onsself blameer,” meen Mapeza.

Cape Town City, wat voor die afskop onder Chippa gelê het, het met ’n doel van die Baaienaar Kermit Erasmus ’n oorwinning van 1-0 oor Black Leoaprds behaal. Dié uitslag het die Citizens verby Chippa gelig tot in die negende plek.

Chippa sak dus nou uit na die 11de plek, met Stellenbosch FC net ’n punt agter hom. Dié moet ook nog sy 20ste wedstryd speel.

Chippa se volgende groot stryd in die PSL is teen Orlando Pirates. Dit gebeur op 1 Februarie in die Nelson Mandelabaai Stadion.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters