21 dae gelede
Gee die Argentyne ’n 2de Superrugby-span
gelak: Jerónimo de la Fuente van die Jaguares word gekeer deur Owen Franks en Mitchell Dunshea in dié jaar se Superrugby-eindstryd. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIT het tyd geword om Argentinië ’n tweede span in Superrugby te gee en Australië weer tot net drie spanne te beperk.

Die Jaguares het vanjaar Superrugby se eindstryd vir die eerste keer gehaal – en dit in net die Argentyne se vierde seisoen in dié kompetisie.

Nie almal beskou dit egter as ’n prestasie vir rugby se vinnigste ontwikkelende rugbynasie nie.

Daar word die laaste ruk vreeslik gemoan oor die Argentyne wat met ’n internasionale span in Superrugby speel.

Australië was die eerste land verbonde aan Sanzaar, Superrugby se beheerliggaam, om bek uit te spoel.

Dit was toe die oud-Wallaby Phil Kearns aangegaan het oor hoe Sanzaar ’n rat voor die oë getrek is deur die Argentynse rugbyunie.

Volgens Kearns is dit duidelik soos daglig dat Argentinië die kompetisie gebruik het om ’n sterk span vir die World Cup te bou.

Volgens hom gaan dit ook ál hoe moeiliker word vir Superrugbyspanne van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika om die Suid-Amerikaners te klop.

Dis omdat die Jaguares basies die Argentyne se nasionale span is wat maar net onder ’n ander naam speel.

Hulle kies geheel en al nié spelers van oorsee nie, behalwe vir die losskakel Nicolás Sánchez, wat spesiale vrywaring het. Hy speel klubrugby in Frank­ryk, maar is nog onder kontrak met die Argentynse Rugbyunie.

Suid-Afrikaners – al is dit meestal ondersteuners – het ook begin moan oor die Jaguares.

Hulle kla veral omdat ’n Jaguares-vyftiental vanjaar in die Currie Cup se Eerste Liga begin speel het en voor gister se game elke span met meer as 50 punte uit die pad gevee het.

Laas week was dit ’n groot besprekingspunt in die SuperSport-ateljee onder die oudspelers Akona Ndungane en John Smit oor hoe sterk Argentynse rugby begin word.

’n Sterker Argentynse rugbyspan is egter glad nie iets om oor te kla nie. Inteendeel, dis beter vir die Springbokke, All Blacks en Wallabies.

Daarom verdien die Argentyne eintlik om in 2021, wanneer Superrugby na sy egte en meer tradisionele formaat terugkeer, ’n bykomende span te kry.

Die Sunwolves van Japan speel immers volgende jaar vir die laaste keer in dié kompetisie. Miskien moet die boontjietellers sommer besluit om nóg ’n Australiese span in die stof te laat byt.

Australiese rugby was op sy beste toe daar net drie Superrugbyspanne was om ’n span uit te kies.

Ja, die Aussies het nou wel spanne gehad wat in 2011 (Reds) en 2014 (Waratahs) Superrugbysukses geproe het, maar daardie sukses het nooit tot op internasionale vlak deurgesyfer nie.

Sanzaar sal dit nie waag om die voorstel van net drie Aussie-spanne op te bring nie. Die feit bly staan – toe die Wallabies net uit die Reds, Waratahs en Brum­bies gekies is, was hulle op hulle beste.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters