2 maande gelede
Gatlin wil goud wen op 39 jaar!
STAAN SY MAN: Justin Gatlin skrik nie vir die jonger naellopers nie.  ~ Getty Images

’N GOUE medalje in die 100 m op 39-jarige ouderdom by ’n Olimpiese Spele?

Wel, volgens die voormalige Olimpiese en wêreldkampioen Justin Gatlin is dit geensins onmoontlik nie. Hy het aan die BBC gesê hy kan goud wen by die uitgestelde Tokio-Spele aanstaande jaar – al word hy in Februarie 39 jaar oud.

Die Spele, wat in Julie en Augustus moes plaasvind, is weens die corona-virus met ’n jaar uitgestel.

Gatlin het in 2004 in Athene goud gewen en die wêreldtitel in 2017 in Londen nadat hy van ’n tweede doping ban teruggekeer het.

Op ’n vraag of hy in Tokio goud kan wen, was sy antwoord ’n besliste ja. “Baie mense dink die tyd is teen my, maar hulle is só verkeerd.

“Ek laat my liggaam rus, herfokus op die taak en bly honger om te wen. In 2021 sal ek met hernude energie terug wees,” sê hy.

Gatlin is van 2006 tot 2010 deelname ontsê nadat hy positief getoets is vir testosteroon.

Hy is ook in 2001 geskors vir die gebruik van amfetamien.

Gatlin is in 2017 luid toegejuig toe hy vir Usain Bolt en Christian Coleman hakskene gewys het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters