18 dae gelede
Gans maak opgang as blitsbok-kaptein
te vinnig: Stedman Gans op pad doellyn toe vir die Blitsbokke. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

STEDMAN Gans se opgang as ’n potensiële permanente kaptein van die Suid-Afrikaanse Sewesrugbyspan (Blitsbokke) het oor die laaste vier toernooie kwaai spoed opgetel.

Gans het in die onlangse Los Angelese-toernooi van sewesrugby se Wêreldreeks sy eerste titel as kaptein saam met die Blitsbokke gewen.

Dit kon maklik twee gewees het as omstrede skeidsregtersbeslissings in die Vancouver-toernooi nie daartoe gelei het dat hulle in die halfeindronde uitgeval het nie.

Gans is gedurende die Blitsbokke se deelname aan toernooie in Nieu-Seeland (Hamilton) en Australië (Sydney) gevra om as kaptein oor te neem by die beseerde Siviwe Soyizwapi.

Hy kon egter nie in sy eerste twee toernooie in beheer van die span die Blitsbokke tot sukses lei nie, maar die feit dat hy en sy span in die Sydney-toernooi naelskraap in die eindstryd teen Fidji sou verloor, het gewys dié boorling van die Weskus (Vredenburg) is besig om sy nuwe verantwoordelikheid sy eie te maak.

Ironies genoeg was Stedman in Los Angeles een van die inspirasies agter die Blitsbokke se pragtige terugveg-sege teen die Fidji-span wat hulle in Sydney getroef het.

Opgebou

Oor sy kapteinskap het Gans aan Son op Sondag gesê: “Ek dink ek is beslis nou meer ontspanne en gemakliker in die rol.

“Dit is egter nog ’n baie lang pad wat ek moet stap om te kom tot waar ek as leier wil groei.

“ ’n Mens leer mos maar met elke liewe toernooi waarin jy speel, maar die ervaring wat ek opgebou het, is tot dusver goed.

“Elke liewe speler in ons set-up ondersteun my en ek geniet dit.”

Gans is egter nie ’n vreemdeling as dit by leierskap kom nie.

Hy was in sy laaste jaar op skool by die Hoërskool Waterkloof die hoofseun, hoewel hy nie die kans gekry het om die eerste span aan te voer nie.

Hy het ook al die kans gekry om die Blitsbokke se Akademie-span in toernooie – nie deel van die Wêreldreeks nie – aan te voer.

Soyizwapi word egter beskou as die man om die Blitsbokke op ’n permanente basis aan te voer en na vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio te neem. Dit is nou as Soyizwapi die span haal en daar ’n Olimpiese Spele gaan plaasvind.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters