22 dae gelede
Fury maak sy debuut
MOEILIKHEID! Die Amerikaanse rofstoeier Braun Strowman en die Britse bokser Tyson Fury.Foto: WORLDBOXINGNEWS.NET  ~ 

DIE Britse swaargewigbokser Tyson Fury maak sy debuut in die rofstoei-kryt op 31 Oktober in Saoedi-Arabië waar hy die ervare Braun Strowman by die Crown Jewel event pak.

Fury se toetrede tot dié nuutjie is reeds besig om wêreldwyd groot belangstelling te lok.

Hoewel dit Fury se eerste en moontlik sy laaste stoeigeveg sal wees, vra die oorsese media reeds hy moet ná sy kragmeting met Strowman weer deur die WWE ingespan word.

“Die promotor Vince Mc­Mahon moet voortgaan om met Fury te werk.

“Hy kan miskien nog ’n groot aanwins word,” word daar in die media geskryf.

Fury en Strowman het mekaar onlangs gegryp toe die Brit op uitnodiging ’n SmackDown-rofstoeitoernooi in Los Angeles bygewoon het.

Hy het Strowman, wat oor die 2 m lank is en ’n hele 175 kg weeg, in ’n stadium opgetel en soos ’n vrot lap deur die lug gegooi.

Van daar af was die gort behoorlik gaar.

Uitslaan

Toe die twee ’n paar dae gelede binne-in die kryt om ’n tafel gesit het om die kontrak te onderteken, het Strowman sommer baie te sê gehad.

Fury het hom egter middeldeur gekyk terwyl hy al hoe harder met hom gepraat het.

“Vir jou gaan ek uitslaan. Ja, vir jou gaan ek uitslaan,” het hy met groot selfvertroue gesê.

Toe ’n verslaggewer hom vra of sy rematch met Deontay Wilder op 22 Februarie nog voortgaan, het Fury gesê hy is nie seker nie.

As die stoeigogga hom byt, sal hy moet besluit waarop hy wil konsentreer.

Fury sal egter nie maklik sy bokshandskoene bêre nie en sal eerder verkies om albei sportsoorte te beoefen.

Hierdie voormalige WBA-, WBO- en IBF-swaargewigkampioen se showmanship pas perfek by rofstoei se kultuur in.

Belangstellendes hoop Fury­ sal op 5 April deel wees van WrestleMania se grootste toernooi van die jaar.

Dit vind in die Raymond James Stadion in Tampa, Florida, plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters