6 dae gelede
Formule 1 distansieer hom van Ecclestone
BERNIE ECCLESTONEFoto: GALLO IMAGES  ~ 

FORMULE 1 sê hy stem glad nie saam met die aanmerkings van Bernie Ecclestone, sy voormalige uitvoerende hoof, oor rassisme nie.

Dié sportsoort wil hom distansieer van aanmerkings wat die 89-jarige Ecclestone gemaak het in ’n onderhoud met CNN.

Ecclestone het in die onderhoud met CNN gesê dat “swart mense soms meer rassisties kan wees as wit mense”.

F1 sê in ’n verklaring: “In ’n tyd waarin eenheid baie nodig is om rassisme en ongelykheid aan te pak, stem ons nie saam met Bernie Ecclestone se aanmerkings nie.

“Daar is geen plek vir dit in Formule 1 of in die samelewing nie.

Verbeter

“Mnr. Ecclestone het geen rol gespeel in Formule 1 sedert hy ons organisasie in 2017 verlaat het nie. Sy titel as rustende voorsitter het in Januarie 2020 verval.”

F1 het net Donderdag ’n taakmag begin om gelykheid in motorsport te verbeter as deel van sy nuwe inisiatief, We Race As One.

Lewis Hamilton, F1 se ses­malige wêreldkampioen, het ook aangekondig dat hy die Hamilton-kommissie op die been gebring het.

Dít is daarop gemik is om diversiteit in die motorsportbedryf te verbeter.

Onkunde

In ’n boodskap Vrydagaand op sy Instagram Story het Hamilton gesê dat dit “so hartseer is en teleurstellend was” om die aanmerkings van Eccle­stone te lees.

“Bernie is buite die sport en ’n ander generasie, maar dit is presies wat verkeerd is – onkunde en onopgevoede kommentaar wat ons wys hoe ver ons as samelewing nog moet gaan voordat regte gelykheid kan geskied,” het Hamilton geskryf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters