24 dae gelede
Fired up vir ’n skopfees
Handre Pollard (Gallo Images)
Handre Pollard  ~ Gallo Images

YOKOHAMA. – Warren Gatland is vol selfvertroue dat sy span Suid-Afrika vandag hier in die een halfeindstryd van die World Cup kan klop.

As sy span dit regkry, sal dit die eerste keer in die geskiedenis wees dat die Rooi Drake die eindstryd van ’n World Cup haal.

Wallis het die dienste van sy gevaarlike aanvallende heelagter, Liam Williams, weens ’n besering aan sy enkel verloor.

Vervang

Suid-Afrika is ook weens ’n enkelbesering die dienste van sy gevaarlikste agterspeler, Cheslin Kolbe, kwyt.

Williams word deur die ervare Leigh Halfpenny vervang, terwyl S’bu Nkosi Kolbe se plek op regtervleuel sal inneem.

Gatland het oor sy span se kans teen Suid-Afrika gesê: “Ek is meer confident oor dié game as oor laas week s’n teen Frankryk.

“Ek kan nie verstaan dat mense ons afskryf nie, want ons rekord teen Suid-Afrika was die afgelope vier of vyf jaar baie goed.

“Dit is vanselfsprekend. Ek dink dit gaan ’n tight game wees. Dit gaan ’n skopfees wees.

“Dit sal nie die mooiste game in die wêreld wees nie. Hulle het 30 keer teen Japan geskop. Ons sal dit net moet hanteer.”

Volgens Gatland gaan Dan Biggar vir Wallis die skopwerk teen Suid-Afrika doen.

Oor Kolbe se verlies het die coach gesê: “Hy is ’n groot verlies vanweë sy vermoë om drieë te druk en oor sy voetwerk.

“Ons sou hom in elk geval waarskynlik in die lug ge­teiken het.

“Hulle het egter nog baie spoed in hulle agterste driehoek.

“Die Bokke het beslis onder Rassie Erasmus as Bok coach verbeter. Onder Rassie het Suid-Afrika teruggegaan na sy tradisionele sterk punte.”

Skitterende

Die uitslag van die halfeindstryd gaan waarskynlik grootliks afhang van die vertoning van Handré Pollard, Suid-Afrika se losskakel, en Biggar, sy eweknie by Wallis.

Pollard het oor sy battle met Biggar gesê: “Ons het vier jaar gelede in die kwarteindronde teen mekaar te staan gekom.

“Ek dink hy het daardie dag ’n skitterende game gehad.

“Ons moes regtig goed speel om daardie game te wen.

“Biggar is ’n onge­looflik goeie rugbyspeler.

“Hy is regtig nie bang vir die fisieke aspek van die spel nie.

“En dit is iets wat ons albei opgewonde maak.

“Hy is ’n ervare speler met ’n groot verskeidenheid vaardighede.

“Dit gaan dus groot pret wees om 80 minute lank teen hom te staan te kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters