14 dae gelede
Fick skok met uittree-plan
oefen hard: Tian Fick sweet lekker in die gym. Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIE Kaapse swaargewigbokser Tian Fick het vir ’n yslike skok gesorg toe hy bekend maak hy tree aan die einde van die jaar uit.

Al waarvoor hy nog wag, is ’n kans om in Desember om die Suid-Afrikaanse titel te boks, sê hy.

Fick is net ’n paar dae gelede as die eerste aanspraakmaker op Ruann Visser se nasionale titel aangewys.

“Ek het ’n droom gehad om as swaargewigkampioen van Suid-Afrika gekroon te word. Ek het ook my pa belowe dat ek die titel vir hom sal wen.

“As ek dus in Desember my kans kry, het my droom waar geword.

“Ek leef vir daardie oomblik,” sê hy.

Fick sê die afgelope drie jaar in die kryt was ’n “absolute blessing” en hy het elke oomblik tot dusver geniet.

Hy is al verlede jaar belowe dat hy ’n titelkans sou kry, maar daar het dadels van gekom.

“Dit was belofte op belofte.

“Selfs my bestuurder, Savva Savvas, het in Januarie opnuut ’n uitdaging gerig.

“My borgskap verval in elk geval die einde van die jaar.”

Op ’n vraag wat hy vir die toekoms beplan, het Fick gesê hy beplan om hom in Januarie by sy verloofde, Chané Roux, in Dubai aan te sluit waar sy as lugwaardin vir Emirates Airlines werk.

“Wie weet, dalk begin ek daar ’n loopbaan as boksafrigter,” vertel Fick.

Op ’n vraag of hy nie die titel gaan verdedig as hy dit wen nie, sê Fick hy sal dit oorweeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters