7 dae gelede
Essien miskien op pad na City
smiles: Thomas Lawrence van die borg verwelkom Michael Essien in Suid-Afrika. Foto: MARK WARD  ~ 

OM OP dieselfde Whats­App-groep te wees as José Mou­rinho kan Michael Essien dalk net oorreed om Cape Town City in die Premierliga te join.

Die gifbek Mourinho was ook ’n sentrale figuur in Benni McCarthy se loopbaan. Met dié dat hulle nog goeie vriende is, kan dit Essien dalk oorreed om sy roemryke loopbaan as speler in die Moederstad af te sluit.

City se grootbaas, John Comitis, het egter­ twee jaar ge­lede ’n aanbod om Essien se dienste te bekom, van die hand gewys.

Dinge is egter nou anders.

Die voormalige middelskakel van Ghana het aan Son op Sondag bevestig hy wil sy loopbaan in Suid-Afrika, maar veral in Kaapstad, afsluit.

Essien was in Johannesburg as gas by die bekendstelling van die bier Budweiser se borgskap van die Engelse Premierliga, sowel as die Spaanse La Liga.

“Ek het my eerste proesel van internasionale sokker in 1998 as 15-jarige vir Ghana se o. 17-span in ’n toernooi in Kaapstad gekry.

“So, ja. As jy my vra, sal dit my pas,” het hy verduidelik.

Die 36-jarige Essien speel tans vir Sabail in Azerbaidjan se Premierliga.

Hy het onder Mourinho by die Engelse­ Premier­liga-klub Chelsea ontwikkel in een van die beste midfielders. Hy verwys selfs na Mourinho as “pa”.

Maar Essien is ook deeglik daarvan bewus dat sy speeldae binnekort tot ’n einde kom.

Hy is dus druk besig om afrigtingsdiplomas te bekom.

“Ek is baie lief vir dié sport en ek dink dat ek nog twee jaar kan aanhou.

“Ek het op die hoogste vlak gespeel, so dit is nie ’n issue waar ek nou speel nie,” het hy gesê.

Hy het van 2005 tot 2014 groot sukses met Chelsea behaal en onder meer twee Premierliga-titels gewen én ’n goue medalje in die Champions League.

Essien sê hy raadpleeg Mourinho in elke aspek van sy lewe.

“As ek dus na Suid-Afrika sal skuif en my loopbaan as afrigter wil voortsit, sal ek José vir raad nader en dinge van daar vat,” het hy met ’n glimlag gesê.

Intelligent

Oor sy voormalige spanmaat Frank Lampard se aanstelling as Chelsea se bestuurder sê hy: “Ek was eers baie verbaas toe hy ná sy uittrede as Derby County se afrigter aangestel is.

“Hy was ’n baie stil outjie, maar ook baie intelligent en hy het my ondersteuning. Ek glo met die nodige ondersteuning sal hy beslis sukses behaal.”

Essien het van 2002 tot 2014 58 stryde vir Ghana gespeel. 

luister: Jose Mourinho, Jose Bosingwa en Benedict McCarthy voor die UEFA Champions League eindstryd. Foto: GALLO IMAGES
ADVIES: Jose Mourinho en Michael Essien.Foto: GETTY IMAGES
smiles: Thomas Lawrence van die borg verwelkom Michael Essien in Suid-Afrika. Foto: MARK WARD
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters