18 dae gelede
Ervare Rantie join CT City
NUWE BESEM: Tekelo Rantie bring hope ervaring na Cape Town City se aanval. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

BENNI McCarthy mean business!

Dié afrigter van Cape Town City het bewys hy gaan die seisoen beslis nie op sy louere rus nie.

Dis nadat City die dienste van Tokelo Rantie, ervare doelskieter van Bafana Bafana, bekom het.

City het gister aangekondig hy’t die 27-jarige Rantie, wat voorheen vir Orlando Pirates uitgedraf het, as ’n vrye agent opgeraap.

Rantie het sy klub in Turkye, Gençlerbirligi, einde verlede jaar verlaat.

Hy het ook van 2013 tot 2016 vir die Engelse Premierliga-klub Bournemouth gespeel. Daar het hy 5 doele in 44 wedstryde aangeteken.

Rantie sal beslis meer byt gee aan City se aanval, wat tans nie so klinies is nie.

Spelers soos Siphelele Mthembu (beseer), Matthew Rusike en Surprise Ralani het tot dusver nog nie die mas opgekom nie.

Die groot vraag is egter of McCarthy die versoeking sal kan weerstaan om Rantie vandag teen Mamelodi Sundowns in te span.

Dis wanneer die Brazilians vir die Kapenaars gasheer speel in die tweede been van die MTN8-bekerreeks se halfeind in Pretoria.

City het al een voet in die eindstryd nadat hy Sundowns laas week in die eerste been in die Kaapstad-stadion met 1-0 geklop het.

Sundowns se afrigter, Pitso Mosimane, het reeds uitgewys dat hulle gereed is vir die tweede been.

En noudat die Premierliga-kampioen, Sundowns, se Caf Cham­pions League-veldtog verby is, sal Mosimane meer opgewonde wees oor vandag se stryd.

Fnuik

Maar met Rantie in die prentjie, sal Mosimane dalk sy benadering moet hersien vir hul belangrike bekerstryd.

McCarthy sal op sy beurt ook sy big guns in spelers soos Taariq Fielies en Teko Modise inspan om te verseker hulle fnuik Sundowns sommer gou-gou. Dié duo het Woensdag se gelykop uitslag van 2-2 teen Free State Stars in ’n Premierliga-wedstryd uitgesit­.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters