22 dae gelede
Engeland slag Aussies
jonny may Foto: getty images  ~ 

ENGELAND het sy plek met ’n kliniese vertoning in die halfeindronde van die Rugby World Cup in Japan bespreek.

Die Rose het Australië in die Oita Stadion met 40-16 verneder.

Die rustydtelling was 17-9 vir die Engelse nadat Eddie Jones (afrigter) se span twee vinnige drieë agtereenvolgens gaan druk het.

Albei drieë is deur Jonny May gedruk, met die kaptein en losskakel, Owen Farrell, wat verdoel het.

Die Wallabies moes op die skopvoet van Christian Lealiifano staatmaak om hulle telbord aan die rol te hou met drie suksesvolle straf­doele.

Farrell het ook met ’n strafdoel geslaag om te verseker daar bly ’n gemaklike gaping.

Daai gap is egter binne drie minute ná die begin van die tweede helfte tot een punt gesny toe Marika Koroibete vir die Wallabies gaan druk het. Lealiifano het die vyfpunter verdoel vir ’n telling van 17-16.

Maar net toe dit blyk dat die Wal­labies terug is in die game, hardloop die stut Kyle Sinclair dwarsdeur die Aussie-verdediging vir ’n derde vyfpunter vir die Rose.

Ondeurdringbaar

Minute later was die voorsprong 11 en die skrif heel duidelik aan die muur dat Engeland dié een sou wen.

Die Wallabies het weer moedig probeer om die gaping te verklein, maar Engeland se verdediging was van toe af byna ondeurdringbaar.

En die vice grip en voorsprong vir die Engelse het verder toegeneem toe Farrell ’n tweede strafdoel behaal het.

Dit was ’n kliniese sege deur Engeland. Dit het nóg sout in die wonde van Michael Cheika se span gesmeer toe Farrell sy vierde strafdoel oorgeklits het.

Cheers van “Eddie! Eddie! Eddie!” is in die Oita Stadion gehoor, so tevrede was die Engelse fans met wat hulle aanskou het.

En toe vir die coup de grâce – ’n onderskepdrie deur Anthony Watson met die akkurate Farrell om die Engelse se 40 punte op te bring.

Puntemakers:

ENGELAND – drieë: Jonny May (2), Kyle Sinclair, Anthony Watson; doelskoppe: Owen Farrell (4); strafdoele: Farell (4).

AUSTRALIË – drie: Marika Koroibete; doelskop: Christian Lealiifano; strafdoele: Lealiifano (3).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters