13 dae gelede
Eddie wil graag weer in SA coach
Eddie Jones  ~ Gallo Images

EDDIE Jones sê hy koester steeds die droom om rugby op die sportvelde in Suid-Afrika af te rig.

Die huidige Engeland-afrigter het voorheen al vir Australië en Japan op internasionale vlak gebrei.

Die uitgeslape 59-jarige het ook sukses behaal as die coach van die Brumbies in Superrugby.

In 2007 is hy deur Jake White as konsultant gebruik toe Suid-Afrika die World Cup in Parys, Frankryk, verower het.

Jones het in 2016 ’n job as coach van die Stormers aanvaar, maar ná net twee weke in die pos het hy ’n aanbod van Engeland aanvaar om die gevaarlike Rose te gaan brei.

Toe hy vandeesweek in ’n onderhoud met Sport24 gevra is of hy dit ooit weer sal oorweeg om in die Reënboognasie te coach, het hy geantwoord met: “Ja, 100 persent, mater ... Ek sal graag steeds in Suid-Afrika of Nieu-Seeland wil coach. Dié twee lande is tradisioneel van die reuse in wêreldrugby.

“Toe ek in Australië – ’n land waar rugbyunie baie uitdagings in die gesig staar – opgegroei het, het ek altyd gedroom om in die beste lande in die wêreld af te rig.

“As daar weer ’n geleentheid opkom, sal ek hopelik langer as twee weke aanbly.”

Jones se Engeland-span is sowat ’n maand gelede teen Suid-Afrika in die eindstryd van die World Cup in Japan ore aangesit. Hy was uiteraard teleurgesteld, maar sê dit het nie sy aptyt vir die spel beïnvloed nie.

“Ek is lief vir die game. Ek is lief vir coaching en die ontwikkeling van coaching. Moontlik is my ouderdom eintlik ’n voordeel. Dit is ’n groot hulp vir my.”

Robbie Fleck het die leisels op Nuweland oorgeneem nadat Jones vertrek het.

Die rol van nuwe coach van die Kaapse franchise is nou aan John Dobson toevertrou.

Slim

Jones het oor Dobson gesê: “Ek het Dobbo ’n paar keer ontmoet.

“Hy is ’n slim ou met ’n kreatiewe manier van dinge doen. Hy dink baie oor die spel.

“Die uitdaging as ’n jong afrigter is altyd dat jy dink dat jy alles weet. Jy moet egter die spel vir die spelers so eenvoudig moontlik maak.

“Dit sal die grootste uitdaging vir hom wees. Hy dink baie aan die spel.

“Hy is baie lief vir die Westelike Provinsie en die Stormers.

“Ek glo hy sal ’n great job vir hulle kan doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters