16 dae gelede
Durban July: Dag van drama
wenner: Do It Again kom gister in die July eerste by die wenpaal aan met ’n uitgelate Richard Fourie, wat sy vreugde wys. Foto: GOLD CIRCLE  ~ 

DURBAN. – Daar was groot drama by die Durban July op Greyville toe die groot gunsteling, Hawwaam, homself in die wegspringhokke beseer het en onttrek moes word.

Hawwaam, wat as ’n baie temperamentele perd beskou word, het sy regtervoorbeen sodanig beseer dat hy skaars daarop kon trap toe hy deur die veearts ondersoek is.

Die aankondiging dat Hawwaam nie meer gaan deelneem nie, het die land geskok.

Wedders was verslae toe Hawwaam se jokkie, Anton Marcus, sy saal afhaal en verdwaas wegstap.

In Hawwaam se afwesigheid het die Justin Snaith-perd Do It Again die wedren gewen ná ’n skitterende eindpoging deur Richard Fourie.

Rainbow Bridge het tweede geëindig, Twist Of Fate derde en Eyes Wide Open vierde.

Do It Again het ook verlede jaar die July gewen.

Hy het boonop sy naam in die geskiedenisboeke verewig deur net die vyfde perd in die geskiedenis te word wat die wedren twee jaar agtereenvolgens kon wen.

Met Miyabi Gold op Eyes Wide Open se hakke beteken dit dat die eerste vyf perde almal van die Kaap is.

Van vroeg Vrydag af het die Dennis Drier-perd Lady In Black groot geld gelok en gisteroggend het hy gesê sy perd sal vir seker onder die voorstes wees.

Op die ou einde moes die merrievul met die 11de plek tevrede wees – 5,05 lengtes agter die wenner.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters