15 dae gelede
Drie baie goeie opsies vir UWK
Mandla Gagayi Foto: Gallo Images  ~ 

DIE Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het na bewering drie sterk kandidate om van kies vir die pos van hoofafrigter van sy Varsity Cup-span.

Die span van Bellville het die hoofafrigterspos die afgelope week geadverteer.

Lionel Langenhoven is aan die einde van verlede jaar as waarnemende hoofafrigter aangestel. Dit was ná die skielike heengaan van die vorige hoofafrigter, die Springbok-legende, Chester Williams.

Williams het die UWK-span tot in die Varsity Cup gelei deur die Varsity Shield in 2018 te wen.

Langenhoven sal heel waarskynlik weer sy naam in die hoed gooi vir dié pos.

Die UWK beoog om die pos teen einde Junie te vul. Dit gaan ’n driejaarkontrak wees, met die opsie op hernuwing. Ander name wat vir dié pos genoem word, is die Universiteit Stellenbosch se sportwetenskaplike dr. Wilbur Kraak en die voormalige NWU Pukke en Varsity Cup-wenner coach Jonathan Mokuena.

Vir die UWK se direkteur van sport, Mandla Gagayi, was Varsity Cup-status vir die UWK altyd deel van sy langtermynplan.

Hierdie plan het vroeër as verwag ’n werklikheid geword.

Gagayi het vertel dat al die huidige lede van UWK se afrigtingspan se kontrakte aan die einde van 2020 verval.

Die inkomende afrigter gaan dalk net sy eie hulpafrigters aanstel voor die voorseisoen en 2021 se Varsity Cup afskop.

“Ons wil baie graag die afrigter aan die einde van Junie permanent aanstel. Die proses is ’n deursigtige een, een wat lede van die publiek sal kan volg.

“Daar is niks wat weggehou of weggesteek moet word van ons spelers, toeskouers en die breë publiek nie,” het Gagayi verdui­delik.

“Die hoofafrigter sal aan die sportbestuur aanbeveel of die huidige afrigters gehou moet word.

“Ook of daar na ander opsies gekyk moet word wanneer die huidige kontrakte in Desember verval.

“Die finale besluite berus egter steeds by ons.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters