19 dae gelede
Draft vir MSL ’19 gebeur Dinsdag
Isuru UdanaFoto’s: GALLO IMAGES  ~ 

TERWYL daar nog nie ’n borg is nie, maak die land se krieketbase gereed vir die tweede weergawe van die Mzansi Super League (MSL).

Die ses franchises, Tshwane Spartans, Cape Town Blitz, Durban Heat, Jozi Stars, Nelson Mandela Bay Giants en die Paarl Rocks sal hulle spanne vir die T20-reeks uit ’n groep van 250 spelers kan kies.

Ingespan

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, het aangekondig die draft sal Dinsdag in Johannesburg gehou word.

Ashwell Prince sal weer die Cape Town Blitz afrig, terwyl Adrian Birrell aanbly as breier van die Paarl Rocks. Geoffrey Toyana is sy adjudant.

Maar al praat Moroe so groot, sal die meerderheid van die spanne dieselfde spelers wat hulle verlede jaar ingespan het, weer tot hulle beskikking hê – juis omdat die geldsake eintlik maar knyp.

Corrie van Zyl, KSA-direkteur van krieket, het aangekondig Engeland se David Willey is nie meer beskikbaar nie. Sy plek by die Paarl Rocks sal deur die veelsydige Isuru Udana van Sri Lanka ingeneem word.

Die Jozi Stars sal die verdediging van hulle titel met ’n nuwe breier begin.

Donovan Miller (40) van die Wes-Indiese Eilande neem by die breier Enoch Nkwe oor. Nkwe is onlangs aangestel om die Proteas op die toer na Indië af te rig.

Miller is tans Engeland se tegniese direkteur. Hy was lid van die Engelse afrigtingspan wat in Julie die Wêreldbeker gewen het.

Ook die Durban Heat sal met ’n nuwe breier begin. Die voormalige Protea-afrigter Gary Kirsten neem by Grant Morgan oor.

Die Dolphins se hoofafrigter, Imraan Khan, is sy adjudant.

Kirsten is uiteraard die mees ervare breier in vanjaar se T20-reeks. Hy het voorheen Indië tot sukses in die Wêreldbekertoernooi afgerig.

Hy was ook aan die stuur van sake by die Challengers Bangalore in die Indiese Premier­liga (IPL). Hy het ook in die Australiese Big Bash die Hobart Hurricanes afgerig.

Soos sake nou staan, het die spanne reeds meer as 50% van hulle spelers verseker.

Die internasionale marquee players wat reeds hulle kontrakte met die franchise geteken het, is: Wahab Riaz (Pakistan) – Blitz; Alex Hales (Engeland) – Heat; Jason Roy (Engeland) – Giants; Chris Gayle (Windies) – Stars; Isuru Udana (Sri Lanka) – Rocks en Tom Curran (Engeland) – Tshwane.

Die plaaslike sterre wat hulle plekke bespreek het, is:

PAARL ROCKS: Henry Davids, Cameron Delport, Bjorn Fortuin, Aiden Markram, Mangaliso Mosehle, Tabraiz Shamsi.

CAPE TOWN BLITZ: Asif Ali, Janneman Malan, Anrich Nortjé, Dale Steyn.

DURBAN HEAT: Kyle Abbott, Sarel Erwee, Keshav Maharaj, David Miller, Khaya Zondo.

JOZI STARS: Dan Christian, Reeza Hendricks, Duanne Olivier, Sinethemba Qeshile, Ryan Rickelton, Rassie van der Dussen.

NELSON MANDELA BAY GIANTS: Junior Dala, Heino Kuhn, Marco Marais, Chris Morris, Jon-Jon Smuts.

TSHWANE SPARTANS: Theunis de Bruyn, Tony de Zorzi, Lungi Ngidi, Lutho Sipamla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters