3 maande gelede
Doen dit, Juniors!
Onse trots: Die Junior Springbokke is gereed vir aksie. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DIE land se sukses-honger rugbyondersteuners wag in spanning dat die Junior Springbokke die Wêreld­beker (WB) later dié maand in Argentinië sal lig.

Die klas van 2019 het ’n reusetaak om die sukses van Dawie Theron se 2012-span te ewenaar.

Dié span het die Kiwi’s daai tyd in die eindstryd op Nuweland met 22-16 geklop.

Die Bokkies sal eers in die groepfase verby Skotland, Georgië en Nieu-Seeland moet kom.

Die Suid-Afrikaners skop hulle veldtog Dinsdag in die Race­course-stadion in Rosario teen Skotland af.

Die Bokkies het die eindstryd teen Engeland in 2014 in Nieu-Seeland met 20-21 verloor.

Die enigste rekord waarmee hulle kan spog, is dat hulle sewe keer as die derde beste span in die toernooi geëindig het.

Maar dís nie goed genoeg vir ’n trotse rugbynasie nie.

Maar genoeg van derde plekke, sê die jong veelsydige agterspeler Thaakir Abrahams van die Paarl.

Abrahams is een van talle jong Wes-Kapenaars wat hulle heil maar elders gaan soek het.

Hy is deesdae ’n Shark-speler in Durban nadat hy as ’n Paarl Boys-leerder Cravenweek vir die Westelike Provinsie gespeel het.

Abrahams sê: “Wat ’n eer vir die land as ons dié trofee verower.

Rekord

“Ek gee nie om of ek heelagter, vleuel of senter speel nie – dit gaan oor ons doelwit, en dís die World Cup.”

Sy ouers, Madinie en Shaheeda, het ’n groot invloed op sy rugbyloopbaan gehad.

Maar dis die rekord van sy oom Ghalieb Hendricks wat hom aanspoor.

Hendricks is ’n legendariese heelagter en losskakel wat vir die WP en Boland in die destydse Saru gespeel het.

Abrahams sê: “Wanneer ek na die ouer mense luister oor die tipe speler wat my oom was, spoor dit my aan.

“Maar ek weet rugby is nie vir ewig nie en dís waarom ek sielkunde deur Unisa studeer.”

Nog ’n Wes-Kaapse speler wat groener weivelde gaan soek het, is Asenathi Ntlabakanye. Hy is net so vasbeslote om die WB huis toe te bring.

Blink

Hy is ’n lid van die Lions se setup, waar hy hoop om binnekort sy Superrugby-debuut te maak.

Die sterk stut is ’n boorling van Plettenbergbaai.

Sy oë blink wanneer hy gepols word oor sy jonger dae in The Craggs.

“Dit was wonderlik,” sê hy, “maar ons het ook bitterlik swaar gekry. My ma en my boetie bly steeds daar.

“Om groot te word onder ’n enkelouer is nie maklik nie. Dís waarom ek so bitter graag ’n sukses van my rugbyloopbaan wil maak.

“En hoe beter as om lid van ’n World Cup-wenspan te wees?”

Ntlabakanye het aan die spogskool St. Stithians College in Johannesburg gematrikuleer.

Hy lag lekker en sê in sy “Britse” aksent: “Toe ek op 14 weg is van The Craggs, kon ek nie ’n woord Engels praat nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters