21 dae gelede
Dinge lyk goed vir Oos-Kaapse krieket
jong ster: Lutho Sipamla is nou meer ervare. Foto: gallo images  ~ 

BINNE die volgende vyf jaar sal die helfte van Suid-Afrika se krieketspan uit Oos-Kaapse spelers bestaan.

Dié voorspelling kom van die veelsydige Jon-Jon Smuts, kaptein van die Warriors.

Smuts en van die ander rolspelers in die Oos-Kaap se streekspan het die laaste paar seisoene al dikwels hulle frustrasie daarmee uitgespreek dat daar nie méér Warriors in die nasionale spanne is nie.

Hy het die hoop uitgespreek dat dié situasie sal verander en voel dat die Warriors, veral in die korter formate van die spel, meer erkenning verdien.

“Die afgelope vyf jaar was dit dalk net die Titans wat beter as ons in die korter wedstryde was,” het Smuts gesê.

Die jong spelers in die Warriors se geledere is wat Smuts so opgewonde oor die toekoms van die spel in die Oos-Kaap maak.

Of die Warriors se streekspan in sy huidige formaat nog lank sal bestaan, is natuurlik ’n vraag wat in die nabye toekoms in Krieket Suid-Afrika se raadsale beantwoord sal moet word.

Vir eers voel Smuts egter die Warriors se span is gereed om nou “ ’n stap boontoe te gee” met sy jong sterre wat meer ervare is.

Die laaste paar seisoene het die afrigter Rivash Gobind nie gehuiwer om van die talentvolle jong Oos-Kaapse spelers by die sogenaamde diepkant in te gooi nie.

Hy het soms die oë met sy spankeuses laat rek, maar Smuts voel in die komende seisoen kan die vrugte hiervan gepluk word.

Hy voeg dadelik by dat die War­riors nie sy jare lange staatmakers sal misken nie en dat senior spelers soos hyself steeds die moue sal moet oprol om die jonger manne te help.

Voortbou

Sinethemba Qeshile en Lutho Sipamla is van die Warriors se blink jong sterre.

Die kolwers Eddie Moore, Gihahn Cloete en Matthew Breetzke het die nasionale keurders se aandag getrek.

Hulle sal op hulle goeie werk van die afgelope seisoen wil voortbou.

Anrich Nortjé het ’n taai tyd met beserings gehad en sal ook weer na sy vorige goeie peil wil terugkeer.

Moet ook nie van staatmakers soos Sisanda Magala, Christiaan Jonker en Rudi Second, die aanwins van die Knights, vergeet nie.

Smuts wil natuurlik self sy gewone en uiters waardevolle rol as kaptein en veelsydige speler voortsit.

Hy het onlangs aan Algoa FM gesê hy wil op 40 nog krieket speel.

“Ek is nou 30 jaar oud en wil nog lank speel. Ek sien ook uit na die Mzansi Super League en veral die wedstryde voor ons tuisskare in Port Elizabeth en Oos-Londen.”

Dit lyk inderdaad nou asof die Oos-Kapenaars gereed is om daardie stap boontoe te gee soos wat hulle kaptein voorspel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters